Gaan Kayla se lewe ooit weer oukei wees na Die Ramp? Die Ramp waarin hulle geliefde huis, Miernes, heeltemal afgebrand het en nou moet haar hele groot gesin in haar pa se ou werkswinkel, Ghrieshuis, gaan bly. Die Ramp waarin haar pa, motorwerktuigkundige en kranige fotograaf, sy sig verloor het en nou nie meer kan werk nie. Die Ramp wat alles verander het.
Maretha Maartens skryf met haar ervare skrywershand ’n deernisvolle verhaal oor verlies, hoop en geloof.
Maretha Maartens verwerf veral bekendheid met haar kinder- en jeugverhale en verower verskeie pryse in hierdie genre, onder meer: die M.E.R.-prys, die Sanlamprys Goud vir Jeuglektuur, die Credo-prys, die De Jager-HAUM-prys, en die JP van der Walt-prys. Sy is ook in 2020 as naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie aangewys met Bethel se berg. Benewens haar kinder- en jeugskryfwerk is sy ook bekend vir die groot aantal geestelike en didaktiese boeke wat sy tot dusvêr gepubliseer het.
Read more