Die Wonderwerker: Chris Barnard se Nuutste Filmdraaiboek

This entry was posted on 07 September 2012.
Die rolprent Die Wonderwerker, oor ‘n periode in die lewe van die digter en wetenskaplike Eugène Marais, begin in teaters draai.

Toe Eugène Marais deurtrek van malaria en morfien by ’n vreemde plaashuis in die Waterberg ingeneem word, verander daardie huishouding heeltemal. Twee vroue ding mee om sy aandag – Maria, die huisvrou, en Jane, ’n jong meisie onder die gesin se sorg. En op hulle beurt is daar twee jaloerse mans – Gys, die eggenoot, en hul seun, Adderjan.

Oor die maande waarin Marais onder die sorg van die twee vroue herstel, verrig hy wat vir die plaasmense en hul bure na wonderwerke lyk. Hy versamel en ondersoek byna alles, maak diere mak en bring hulle in sy kamer in, genees besoekers. Hy “mesmeraais” mense en hou hom besig met dinge wat soos toordery lyk. 

Algaande bring sy teenwoordigheid in almal die verlange na iets onbereikbaars na vore, maar dis Marais se verlange na die jongmeisie, en hare na hom en na ’n ander lewe, wat al die versweë konflikte op die spits dryf.

Oor die outeur

Chris Barnard is een van die mees bekroonde skrywers in Afrikaans, met tientalle boeke tot sy krediet, in ‘n wye verskeidenheid genres. Sy draaiboek oor ‘n werklike periode in Eugène Marais se lewe is die teks vir ‘n gelyknamige speelfilm deur die regisseur Katinka Heyns, Barnard se vrou. Dit is die jongste van talle produksies vir film en televisie deur hierdie veelbekroonde skeppers.

Spoor Die Wonderwerker.

 


 

Facebook  Twitter