Resep: Onthoukos deur Tiaan Langenegger

This entry was posted on 19 September 2023.

Vir sjef Tiaan Langenegger was dit sedert sy kinderjare ’n droom om sy eie kookboek te hê. Vandat hy op dertienjarige ouderdom Jamie Oliver se eerste kookboek, The Naked Chef, gesien het, het hy geweet dit is wat hy ook wil doen – hy wil met kos werk en ’n seleb wees – dis nou voordat hy besef het wat laasgenoemde regtig behels! Na aanleiding van Tiaan se kookprogramme Tiaan onthou, Tiaan kook en Tiaan proe op kykNET en Showmax het hy baie navrae van kykers gekry oor waar hulle die resepte kan kry, en só is die idee vir sy eie kookboek gebore. Dit is geïnspireer deur sy ma en ouma se kos, en dis baie anders as wat hy jare gelede gedink het dit sou wees: Dit is meer back to basics. Hy deel ook resepte wat hy deur die jare geleer maak het waar hy in verskillende bekende restaurante gewerk het, waaronder Le Quartier Français op Franschhoek en Overture op Stellenbosch.

 


 

Kerriesosaties

 

“Wie hou nou nie van ’n lekker sosatie op die braai nie? Tuisgemaak is beslis ’n bonus en hierdie resep kan ook vir varkvleis gebruik word. Die basiskerriesous kan selfs gevries word vir later.”

 

Genoeg vir 6–8

 

2 groot uie, in skywe gesny

1 e (15 ml) olie 

3 e (45 ml) kerriepoeier

2 e (30 ml) borrie

2 e (30 ml) suiker

2 k (500 ml) water

1 k (250 ml) asyn

½ k fyn appelkooskonfyt

2 lourierblare

1 e (15 ml) mielieblom, indien nodig om die marinade te verdik

1 skaapboud, ontbeen en in groot blokkies gesny

sout en swartpeper na smaak

kerrieblare (opsioneel)

 

Braai die uie in ’n pot in ’n bietjie olie oor stadige hitte tot sag. Voeg die kerrie, borrie en suiker by en braai tot die speserye lekker uitgebraai is.

Voeg die water, asyn en appelkooskonfyt by, asook die lourierblare, en laat kook vir 15–20 minute. Die sous behoort dik genoeg te wees vir ’n marinade, maar kan met mielieblom effens verdik word indien nodig. Laat die marinade afkoel tot kamertemperatuur en gooi dit dan oor die blokkies vleis om vir minstens 30 minute (of selfs oornag in die yskas) te marineer.

Ryg die vleis op sosatiestokkies wat in water laat lê is (sodat dit nie brand op die vuur nie) en braai op ’n lekker warm vuur tot so gaar soos wat jy verlang. Ek verkies dit halfgaar, want dan is dit nog lekker sappig. Garneer met kerrieblare indien verkies.

 

WENKE 

* Die sosaties kan ook vir sowat 15–20 minute by 200 °C in die oond gebak word of tot dit so gaar is soos jy dit verkies. 

* Laat rus vir 5 minute en sit voor met ’n lekker slaai.

 

Resep uitrek uit Onthoukos deur Tiaan Langenegger, nou beskikbaar.

 

 
 
 
 

 

U KAN OOK GENIET

Recipes: Beer Country’s Blackouts & Boerewors by Karl Tessendorf and Greg Gilowey

 


 

Facebook  Twitter