In die afgeleë Sneeuberge van die Oos-Kaap soek ’n groep argeoloë onder leiding van die nimlike professor Attie Vermaak na ’n reeks rotstekeninge: ’n befaamde oorlogstafereel van ruiters en vlugtendes. Groot is hul vreugde toe hulle dié kunswerk na ’n uitmergelende soektog vind.
Hulle blydskap is egter van korte duur: ’n gevaarlike groep drosters oorrompel hulle en neem hulle gevange. Onder angswekkende omstandighede deel ekspedisie- en bendelede dieselfde kampeerplek terwyl die bendekaptein wag op verslag deur twee verspieders wat hy na die buitewêreld stuur om ’n losprys te eis.
Amatola is Piet van Rooyen op sy beste.
Piet van Rooyen is die skrywer van sewe romans en vier poësiebundels. Sy eerste roman, Die spoorsnyer, wen die Tafelberg/Sanlam/De Kat-romankompetisiein 1993. Hy ontvang hiervoor ook die cna-prys vir 'n debuutroman. Die olifantjagters verskyn in 1997 en dié roman ontvang in 1998 die M-Net-prys. Ander romans sluit in Gif (2001), Die brandende man (2002), Akwarius (2005), Etosha (2010) en Rodriguez (2012). Hy is tans professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Namibië.
Read more