Wanneer Ruby Swart se ma onverwags sterf, is sy meer as ooit vasbeslote om uit te vind wie haar biologiese pa is. Al is dit net om vir die man wat haar ma as matriekmeisie in die steek gelaat het en nooit sy dogter se bestaan erken het nie te sê hoe sy hom verag. Met harde werk en verbete wilskrag het Ruby Swart vir haar ’n lewe gebou. Eers as internasionale model en deesdae as sakevrou met haar eie Black Ruby- klerereeks en boetiek in die Kaapse Waterfront. Maar sy sal nooit volledig mens voel terwyl vyftig persent van haar genepoel ’n raaisel is en die gevoel van verwerping soos ’n meulsteen om haar nek hang nie. In haar soeke na die waarheid kruis haar pad met twee mans s’n: Die konserwatiewe dokter Joshua Durant wat haar ma se vertroueling was en Ruby vermoed meer...
Vita du Preez se eerste romanse As sterre blom het in 1996 verskyn terwyl sy voltyds as argivaris by die WNNR gewerk het. Daarna het verskeie titels uit haar pen die lig gesien. Skuiling van die hart is ’n persoonlike gunsteling van haar, en is ’n historiese roman wat tydens die Boereoor¬log afspeel. ’n Man vir Mia was ’n finalis vir die LAPA-liefdesverhaaltoekenning in 2005/2006.
Nadat sy in 2002 Kaap toe verhuis het, het sy vryskutvertaalwerk begin doen, wat later ’n heeltydse werk geword het. Sy het meer as sestig Mills & Boon en Har-lequin Intrigue-titels vertaal. Ná tien jaar in die bedryf het sy besluit genoeg is oorgenoeg en weer voltyds op haar skryfwerk begin fokus. Sy was lus vir ’n nuwe uitdaging en het besluit om ’n ander genre – liefdesro¬mans – aan te pak. Waar die son omdraai, haar eerste liefdesroman, het in 2014 verskyn. Tans skryf sy aan ’n reeks oor vier vroue waarvan die eerste twee Solitaire en Woestynroos reeds verskyn het.
Vita kry haar inspirasie uit die alledaagse, waar goeie en slegte goed met mense gebeur. Haar karakters is mense met wie moderne Afrikaanse vroue van alle ouderdomme kan identifiseer. Sy plaas hulle in realistiese situasies waar hulle met hedendaagse kwessies worstel wat alle vroue raak: verlies, egskeidings, swangerskappe, gesinsverhoudings, chauvinisme, uitdagings in die werkplek en natuurlik die liefde. Ge¬lukkige eindes, nes standvastige verhoudings, kan ons almal beskore wees as ons ons lewensvreugde, balans en humorsin behou, glo sy.
Deesdae woon Vita saam met haar man Riaan du Plessis in die Strand en wanneer sy nie skryf nie, maak sy tuin, lees en kuier saam met vriende.