Nadia het ’n geheim. Dit is die rede waarom sy by haar ouma in die Magoebaskloof moet gaan bly. Hier ontmoet sy vir Poenk. Bos-Poenk. Geheimsinnige Poenk. Poenk wat haar leer hoe paddaeiertjies ruik. Wat haar wys dat daar kleure soos ritselgroen, bangmaakgroen, fluistergroen, kieliegroen en flikkergroen bestaan. Poenk wie se naam sy oor en oor in haar huiswerkboek skryf. Wat vir haar gedigte lees en vir haar sprokies vertel. Poenk wat self ’n geheim in hom rond dra.
Fanie Viljoen is een van die mees geliefde en diverse Afrikaanse kinder- en jeugboekskrywers. Sy boek BreinBliksem wen die Goue Sanlamprys vir jeuglektuur en ook die MER-prys vir jeuglektuur. Onderwêreld is met die Silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon. Hy het ook al ‘n rits ATKV-Woordveertjies en ‘n M.E.R.-prys ingepalm. Hy het die LAPA se jeugromankompetisie alreeds drie keer gewen met sy boeke Offers vir die vlieë, Ons laaste legendariese somer en Die seun met die swaeltjie. Offers vir die vlieë ontvang ook ‘n ATKV-Woordveertjie toekenning (2019) en word met die Scheepersprys vir jeuglektuur (2022) bekroon.
Read more