In die oop ruimtes tussen sterre en swaartekrag sal jy Karlien vind waar sy kaalvoet en sonder pretensie by die Here sit. Daar waar sy met Hom kan gesels oor haar soeke en seer, want sy weet dat Hy gewillig en met deernis luister.
Karlien vertel van haar kronkelpaaie van pyn en verlies en hoe sy deur die jare daardie paaie gevleg met haar onwrikbare geloof gestap het. In hierdie poëtiese teks vol beeldspraak en vloeiende kreatiwiteit gesels sy oor kwesbare grepe uit haar lewe. Sy deel met die leser haar ondersoeke in die Woord, die suiwer leringe van Jesus, sielvolle gedigte, lirieke en diep persoonlike gewaarwordinge.
In Riviere in die wildernis leer ons Karlien ken soos nog nooit tevore nie.
In haar arms het sy al lewe, siekte en dood vasgehou en geleer...
Karlien van Jaarsveld is 'n bekende persoonlikheid in die Suid-Afrikaanse
vermaaklikheidswêreld. Sy is 'n baie gewilde liedjieskrywer, sangeres, aktrise en kunstenaar. Karlien is gebore in die Paarl, die oudste van drie kinders, en haar broer is die ewe bekende sanger en akteur, Bobby van Jaarsveld. Haar musiekalbums bereik gereeld Platinum-status. Sy verskyn ook in die films Platteland en As jy sing, die sepie Binnelanders en as Aspoestertjie in 'n teaterproduksie. In 2015 wen sy die agtste seisoen van Strictly Come Dancing SA en speel ook saam met haar broer in 'n realiteitsreeks, Bobby & Karlien: In jou skoene. Karlien is ook al vir menige toekennings benoem, insluitend die Beste Vroulike Kunstenaar, Beste Pop-album en Musiekvideo van die Jaar. Karlien is gelukkig getroud en het vier kinders. Riviere in die wildernis is haar tweede boek. Die eerste was Karlien kan nie kook nie wat in 2019 deur LAPA uitgegee is.