’n Fratskoeël. Dis wat die verslaggewers dit genoem het. Die een wat hulle nefie, Jaco, in die voorkop net bo sy oog getref het. Lenore, Tarien en Bella moes verklarings aflê. Jaco se ouers het die drie niggies vir sy dood verantwoordelik gehou. Die leuens en misleiding rondom die noodlotskoeël sou egter hulle lewens onherroeplik verander.
Jare later, wanneer een van Bateleur se renosterkoeie gestroop word, word Lenore se hulp ingeroep om die renosterkalfie te help versorg. Haar droom is om ’n toevlugsentrum vir diereslagoffers van wildmisdaad te stig. So beland sy weer op Bateleur. Daar waar die ongeluk gebeur het. Daar waar haar lewe so ingrypend verander het. Wie moet die skuld kry vir wat op daardie tragiese dag in die opstal op Bateleur gebeur...
Elize Parker is ’n omgewingsjoernalis en skrywer van twee Christenfiksie-reekse; sowel as talle dagstukkieboeke in Engels en Afrikaans. Sy was sewe jaar ’n kolomskrywer vir Huisgenoot-tydskrif en verbonde aan nuusspanne van Laevelder-koerant en Bulletin Radio-nuusagentskap. Sy val graag in die pad na die Weskus om oor krimpende pikkewynbevolkings te skryf en stap agterpaaie van die Overberg op soek na vlugvoetige rooikatte. Elize werk as ’n joernalis en woon in Pretoria. Sy is ma van twee dogters; onderwyseres Ruby; en navorser oor pandemies; Edyth. Sy droom daaroor om ’n boek te skryf oor bedreigde groot kat bevolkings soos leeus en tiere.
Read more