Search for your favourite author or book

Boas Mei is Verward

Information about the book

Hoofstuk Een

Boas Mei is verward – en dis amptelik. ’n Verpleegstertjie het so pas ’n etiket om sy linkerpols kom sit en daarop staan dit duidelik in ’n ronde, kinderlike handskrif geskrywe: “Confused”.

Hy sit regop tussen spierwit lakens en voor hom sien hy ’n helder prentjie van die heelal wat op sy fondamente skommel en skud; van ’n profeet uit die Ou Testament – seker maar Jeremia – wat oor hom troon en met ’n bulderende stem beveel: Gaan op jou knieë en bid! Het die profeet die Tien Gebooie voor Boas se neus geswaai terwyl hy sy boodskap oordra? Seker nie. Maar dis hoe Boas dit onthou en hy onthou dit soos gister, al het dit eergister gebeur.

Eintlik was dit g’n profeet nie. Dit was Talia se pa. Diep in sy hart weet Boas dit, maar hy doen moeilik afstand van die groter drama wat hy hom verbeel, kompleet met die reuk van rook en swael en die aarde wat voor hom oopskeur sodat hy ’n magdom verdoemde siele beter kan bekyk.

Het dié boodskap, dié visioen, hom tot inkeer gebring? Is dit hoekom hy hom tot ’n Hoër Hand – dié van ’n dokter – wend? Nee, wat, nee. Dit was iets groots, ja, maar hy het dit van ’n afstand aanskou, asof dit op iemand anders gemik was. Sy woede was allermins getemper. En nog minder sy drang om leed te versprei.

Eers die volgende oggend – gister – sou alles in ’n oogwink verander, toe hy wakker word en besef hy is alleen.

Boas is bly hy kry uiteindelik ’n kans om hierdie aaklige dag in oënskou te neem, hier waar hy hom tussen vars lakens bevind, naby weldoeners met koorspenne, stetoskope en bakkies met jellie en vla.

 

Hoofstuk Twee

In Boas se weergawe is hy meer heldhaftig, minder lomp en sy bene is frisser as wat werklik die geval is. Verder strook dit min of meer met die waarheid.

Dié lyk só: Hy is op pad werk toe, en daar tref dit hom: hy het nie ’n werk nie. Pleks van links draai hy regs en voor hy hom kom kry, sit hy in dokter Schoof Appelman se wagkamer.

’n Week lank wou Boas pyn saai waar hy kon. Teen die tyd dat hy by dokter Appelman se spreekkamer inskuifel, is hy geheel en al skadeloos. Hy haal net skouers op toe dokter Appelman vra wat is fout. As hy geweet het wat is fout, sou hy mos nie hier gestaan het nie, reken Boas Mei. Dis toe dat dokter Appelman besef Boas is verward. Maar hóé verward, dié wis hy nie. Hy krabbel iets op ’n papiertjie en sê Boas moet by so-en-so hospitaal aanmeld en die papiertjie by ontvangs ingee. Hy moet nagklere en tandeborselgoed inpak, vir ingeval.

As dokter Appelman sy pasiënt deegliker ondersoek het, sou hy hom nooit vertrou het om self sy karretjie te bestuur nie. Op pad huis toe ry Boas Mei amper ’n man op ’n fiets en ’n non te pletter. Nugter weet hoe niemand vandag in die lykshuis lê, met sy of haar bloed op Boas Mei – of is dit dokter Appelman? – se hande nie.

Tuis pak hy sy tassie. Hy slaap graag in ’n bokserbroek en ’n t-hemp, wat albei gewoonlik, winter en somer, lente en herfs, voor dagbreek op die vloer langs die bed beland. In die kas vind hy net ’n t-hemp. Hy dra ook onder sy flannels ’n bokserbroek, wat voorlopig sou deug, maar daaraan dink hy nie. Want Boas Mei is verward. Hy snuffel toe maar in die chaotiese kas van sy geliefde, of gewese geliefde, wat self twee dae vroeër inderhaas moes pak, en daar kry hy sowaar ’n broekie, van dieselfde materiaal as ’n fietsrymondering. ’n Wit broekie met prentjies van ’n muis. Klein, met ’n stewige rek. Hy strompel kar toe, waar ’n gelukskoot hom tref: sy sleutel pas nie in die deur nie. Dis nie ’n motorsleutel nie, dis ’n agterdeursleutel. Sy buurman, Boks Bakker, sien hom sukkel en staan nader om te hoor of hy kan help. Dis toe dat hy ook besef Boas Mei is verward, of nie lekker nie, soos Boks Bakker dit sou beskryf.

Boks maak toe eers seker Boas se huis is gesluit (hy was nie), lees dokter Appelman se briefie, en sê: “Kom, buurman.”

By die hospitaal besorg hy Boas veilig aan die woelige dames by ontvangs, waar ’n geskarrel ontstaan, want Boas het probleme met die vorms. Iemand bel vir dokter Appelman. Dié se ontvangsdame bel vir Talia, wat dokter Appelman onlangs oor slapeloosheid kom sien het. Talia warrel in, nog effens geskok, vat saggies aan Boas Mei se hand en probeer oogkontak vermy. Sy vul ’n hele paar blokkies in, en daar trek sy. Wat het van die monster geword? wonder Talia.

’n Dame maak ’n oproep. ’n Verpleegster verskyn. Sy’s oral sag, maar Boas weet dis nie nou tyd vir hunker nie. “Come,” sê sy vir Boas. Hy volg haar deur ’n doolhof, woordeloos, tussen ’n malende mensegedruis deur, meer as die helfte geklee in wit of groen of ’n kombinasie van die twee. Boas merk dit nie op nie. Hy’t hom nog nooit aan modegiere gesteur nie.

Hulle bereik ’n doodloopstraat. Daar gee die verpleegster dokter Appelman se briefie vir ’n suster. Dié is vriendelik genoeg. Sy sê Boas aan om sy skoene uit te trek en sy bril, sleutels en knapsak aan haar te oorhandig.

Boas se knapsak, wat hy amper altyd by hom het, bevat ’n notaboekie, ’n potlood, ’n debietkaart, ’n kondoom wat hy al drie jaar lank saamdra, vir ingeval, ’n boetekaartjie, ’n twintigrandnoot en ’n skoon paar sokkies. Hy vertrou die suster sal mooi daarna omsien. Sy het baie balkies op haar skouerlapel.

Hy moet op ’n bankie gaan lê. Dié skuif met Boas en al onder ’n staal-igloo in wat ratel en zoem.

’n Halfuur later kyk die suster na ’n stel prente. “Foto’s van jou brein,” sê die suster, toe Boas vra. Hy hou nie van die manier waarop die suster na sy brein kyk nie.

“Wat …?”

“Ek gaan gou met Dokter praat. Hy sal nou hier wees.”

Bedoel sy nou of bedoel sy nou-nou? wonder Boas Mei.

Toe Dokter – kort en stewig en kordaat – arriveer, is hy nie alleen nie. Die nuus oor Boas Mei se brein het vinnig versprei. Daar is ’n ronde een met ’n bokbaard; ’n maere met ’n bles; ’n langerige een met ’n effens wilde oranje-grys haardos; dokter Appelman, groot en vriendelik met ’n bypassende boep; en die enigste vrou, ’n kleintjie wat duidelik op ’n dag besluit het sy wil nie meer in ’n biblioteek werk nie maar nog steeds bietjie streng lyk en bo-oor haar bril vir mens kyk. Boas is verbaas toe sy vir hom glimlag.

Boas weet dit nie, maar sy herinner hom aan ’n spesifieke biblioteek-tannie. Hy was omtrent ses toe hy hartstogtelik op haar verlief geraak het. Sy’t dieprooi hare gehad wat vorentoe krul en met ’n breë band in posisie gehou is. Sy was lieflikmooi. Hy wou sy vriend Papie op sy neus pot omdat Papie gesê het sy ma kan sweer dis ’n pruik. Hy kon tog nie vir Papie se ma op haar neus pot nie. Dit sou verkeerd wees.

Die biblioteektannie het een vakansie sy hart gebreek toe sy met hom raas omdat hy al sy boeke op een dag klaar gelees het, voordat sy die kaartjies kon liasseer. Sy het boonop diep gesug voor sy die kaartjies uit ’n bondel soek. Daarna het hy nog soms al sy boeke op een dag klaar gelees, maar altyd tot die volgende dag gewag voor hy hulle terugvat biblioteek toe. Hy het toe al in elk geval besluit hy gaan nie met haar trou as sy so lelik is met hom nie.

Dokter Mia Amat se vel is minder blosend en haar krulle meer uitbun-dig en sy’s korter en haar wanglyn is sagter en haar oë is donkerder en lê met ’n ander hoek en haar neusie is kleiner en minder gepunt en haar lippe is heelwat voller en sagter en haar nek effens minder elegant. Behalwe hier-voor lyk sy vir Boas op ’n haar na die biblioteektannie, al weet hy dit nie.

Die dokter wat voor geloop het, hou ’n knipbord na hom uit. “Teken asseblief. Daar. Nee, dáár.”

“Wag bietjie, wag,” sê die biblioteektannie en vat saggies aan Boas se arm. Maar Boas het klaar geteken. Dis nie Boas se gewone handtekening nie; iets meer flambojant waarin mens nie ’n enkele letter van die Latynse alfabet kan onderskei nie. Arabies, miskien, met ’n krulletjie hier en ’n kolletjie daar.

Almal noem mekaar Dokter, een of twee op die Engelse manier, daar waar hulle om die foto’s van Boas se brein vergader staan. Iemand sê die FKP’s lyk uiters vreemd en iemand anders meen dis dalk te wyte aan die GRD’s. Of miskien die AXT’s of die WGK’s. Hulle frons diep, een en elk, en dokter Appelman lyk mistroostig.

Boas frons nie. Wat die dokters ook al so laat frons, is nou hulle saak. Hy kan niks daaraan doen nie. Dis nou te laat. Te laat waarvoor, dié weet hy nie. Maar dis beslis te laat.

Een van die dokters roep ’n verpleegster nader. Boas trek sy skoene aan en die suster van die igloo gee sy knapsak terug. Hy kyk nie of al sy besittings in die sak is nie. Die suster het haar eie notaboekie en pen. Alle susters het een van elk, dit het hy al gesien. Sy ken nie die geheime nommer van die debietkaart nie. En wat sou sy nou met twintig rand of ’n ou kondoom of ’n paar manskouse wou doen? Die boetekaartjie sal hy sekerlik self moet betaal.

Die verpleegster word glad nie ongeduldig toe Boas talm nie. Sy lei hom saggies aan die elmboog weg en laat los eers toe sy sien hy is deeglik op koers.

Hulle stap in dié gang op en in dáái gang af. Hulle haal ’n hysbak boontoe, van waar sy hom tot in blok F en dan tot in ’n saal begelei. Saal 7, lees Boas Mei. Daar vind ’n kort onderhandeling plaas. Die een verpleegster oorhandig ’n kaartjie met baie woorde op aan ’n ander en verkas. Boas wil haar volg, maar die nuwe een sê nee en neem Boas na ’n kamer met ses beddens. 7C. Sy bed is die eerste een aan die linkerkant. Boas is bly. Dis sy gunstelingbed in enige kamer: die eerste een, links.