Roelien is ’n rykmanskind wat voor die kansel besluit sy gaan nie met die man trou wat haar pa vir haar uitgesoek het nie. Dis net dat haar vlugtog ietwat rampspoedig begin lyk toe haar sportmotor haar in die middel van nêrens in die steek laat. Gelukkig kom ’n skoolbusbestuurder tot haar redding. En ongelukkig is hy nou nie juis die soort man wat in die soort omstandighede leef waaraan sy tot nou toe gewoond was nie. Maar sy soort lewe word vir haar al hoe aanneemliker, onder andere omdat hy so ’n verlammende uitwerking op haar het. Of die busbestuurder is wat hy voorgee om te wees, is egter ’n ander saak.
Dina Botha is 'n liefdesverhaalskrywer wat al met vyf ATKV-Woordveertjies vereer is. Reeds as tiener was sy lief vir lees, maar sy het nooit formeel probeer skryf nie. In 2006 vervul sy op 42 een van haar groot hartsbegeertes, toe haar eerste Romanza, In ruil vir 'n hart, verskyn. Tans het sy 92 Romanzas, insluitend 8 SuperRomanzas, agter haar naam. Sy woon in Centurion saam met haar man en is die trotse ouma van twee kleinkinders.
Read more