Skip to main content

Penguin Random House South Africa

Authors & Events •

Bun Booyens se Troep! wen Hiemstra-prys en word herdruk

Bun Booyens se Troep! het pas die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Hiemstra-prys vir niefiksie-letterkunde ontvang – nóg ’n mylpaal vir ’n boek wat sedert sy verskyning in 2024 sterk by lesers aanklank vind. Die gewildheid daarvan beteken dat Troep! nou herdruk word. In die boek verweef Booyens die herinneringe van meer as honderd oud-dienspligtiges tot ’n veelstemmige vertelling oor diensplig, oorlog en die terugkeer huis toe. Ons het met hom gesels oor waar die idee ontstaan het, hoe hy die verhale gekies het, waarom vroue so sterk daarop reageer en wat kan gebeur wanneer veterane uiteindelik hul eie stories vertel.


Hoe het jy aan die idee vir die boek gedink?

Ek is glad nie ’n militaris nie, maar dit het my begin opval elke ouddienspligtiges het ’n paar eg menslike stories om te vertel, soms komies, dikwels tragies. Dit sou ’n jammerte wees as dit verlore gaan en ek het toe sommer so ’n ‘skoenboks’ op my rekenaar geskep waarin ek storie-idees gebêre het. Toe ek een dag weer gaan kyk, sien ek daar lê ’n groter verhaal; doodgewone mense se belewenisse van diensplig.

Hoe het jy besluit watter verhale om in te sluit?

‘n Goeie storie vertel op die ou-end homself. As jy die vertelling op ’n manier aan gang kan kry, begin volg die storie sy eie spoor, so ’n riviertjie wat see toe loop. Ek het aanvanklik gedink om ‘Diensplig in 100 objekte’ te doen, maar dit het toe op eie stoom ’n breër vertelling geword: diensplig as iets wat oor ’n tydperk van meer as 20 jaar alle wit Suid-Afrikaanse seuns geraak het. Toe het ek begin inligting soek om die gapings te vul … begin, middel, einde.

Jy het al genoem dat vroue die boek baie waardeer. Waarom dink jy is dit so?

Ek is nogal onkant betrap deur hoe min ‘die mense by die huis’ destyds geweet het van wat op die Grens – eintlik oorkant die Grens – aangaan. Hulle het die oorlog erg beleef weens die chroniese onsekerheid. Ma’s en pa’s wat nie geweet waar hul seuns is nie.

Sou jy dit oorweeg om ’n tweede boek te doen?

Ek dink nie so nie, maar daar is wel so baie stories wat nog nie behoorlik vertel is nie. Waar ek kom, moedig ek veterane aan om hul herinneringe op teken.

Is daar ’n enkele storie in die boek wat vir jou uitstaan?

Die omgekeerde is eintlik waar. As ’n vertelling – al was dit net ’n sin of drie – my nie op ’n manier geroer het nie, het ek dit nie ingesluit nie. Maar daar was ’n hele paar stories wat my aan die hart geruk het.

Dink jy daar is ’n mate van troos, terapie of afsluiting vir mense wat die soort dinge beleef het wat in jou boek beskryf word?

Beslis, veral as veterane die geleentheid kry om oor hul eie ervarings te praat. Mense dink dikwels net groot insidente kwalifiseer as trauma, maar klein oomblikke kan ook ’n groot impak maak. Dis belangrik dat mense hul eie herinneringe na waarde skat. Die kuns van die lewe is nie om boggerol te voel nie. En wanneer mense hul stories vertel, kom hulle agter hulle is nie alleen nie, want feitlik all veterane dra iets saam.

Troep!

deur Bun Booyens is beskikbaar landwyd


Koop hier

×