Skip to main content

Penguin Random House South Africa

Recipes

Herman Lensing’s Appeltert met ’n knertsie

uit Herman se tafel

 

“Aan my ouma se tafel het appeltert maar net anders gesmaak. Sy het hom gemaak met haar eie botterblaardeeg (wat gewoonlik oorskiet van die melktert was!) Hierdie klassieke tert uit Frankryk staan ook as frangipane bekend. Tegnies gesproke was hy nooit op my ouma se tafel nie, maar ek is seker sy sou hom nog beter as ek kon maak, sou sy haar blaardeeg daarby kon voeg! Die vulsel is ’n mengsel van amandel, botter en eier. Voeg ’n skeut brandewyn by en jy kan maar weet: Jy gaan nóg ’n sny skep.”

 

GENOEG VIR 6–8

 

400 g-rol blaardeeg, ontdooi

115 g (125 ml) botter

100 g (125 ml) strooisuiker

1 eier

200 g (250 ml) fyn amandels

35 g (65 ml) koekmeel

80 ml brandewyn

4 appels, geskil en ontklok

250 ml room, vir voorsit

 

Verhit die oond tot 180 °C.

 

Sprinkel koekmeel op ’n werkvlak en rol die blaardeeg met ’n koekroller tot ’n dikte van sowat 3 mm uit. Sny dit in ’n netjiese reghoek. Sny dan vier deegrepe, elk met ’n breedte van 5 mm, van die vier kante van die reghoek af. Plaas die deegreghoek op ’n bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Verf die rande van die reghoek met water en plak dan ’n deegreep aan elke rand.

 

Klits die botter en strooisuiker saam tot lig en romerig. Voeg die eier by, klits vir ’n minuut en voeg dan die amandels, koekmeel en 50 ml van die brandewyn by. Meng dit goed. Skep die vulsel bo-op die kors op die bakplaat en versprei dit eweredig. Sny die appels met ’n skerp mes in dun skyfies. Pak die appelskyfies styf teenmekaar bo-op die tert sodat die hele vulsel bedek is. Bak dit vir 40–45 minute of tot goudbruin en gaar.

 

Klop die room tot sagte punte vorm. Voeg die res van die brandewyn by en meng dit goed. Sit die appeltert warm voor met die room.

 

Resep uit Herman se tafel, nou beskikbaar.

×