Jaycee raak skoon paniekerig toe sy besef die groot D is om die draai.
Dertig. En alleen. Wat het sy buiten ’n loopbaan, haar sportmotor en ’n meenthuis? G’n man in haar lewe nie, nie eens ’n kat wat haar verwelkom nie. Haar vooruitsigte is bitter vaal. Sy moet haar lewe in orde kry, haar prioriteite reg. Sy raak verlief op ’n gesig in ’n tydskrif. En dié einste gesig bied vir haar werk aan. Adam First is nog aantrekliker as op sy foto. Maar ná haar aanstelling, sien hy haar skaars raak. Hoe kan sy sy aandag trek sonder dat hy agterkom sy is ’n klein bietjie desperaat?
Dina Botha is 'n liefdesverhaalskrywer wat al met vyf ATKV-Woordveertjies vereer is. Reeds as tiener was sy lief vir lees, maar sy het nooit formeel probeer skryf nie. In 2006 vervul sy op 42 een van haar groot hartsbegeertes, toe haar eerste Romanza, In ruil vir 'n hart, verskyn. Tans het sy 92 Romanzas, insluitend 8 SuperRomanzas, agter haar naam. Sy woon in Centurion saam met haar man en is die trotse ouma van twee kleinkinders.
Read more