Op ’n klein plekkie in die Bo-Karoo is lewe en dood soos die paaie wat in en uit die dorp loop, albei deel van die orde. Maar in die jare sewentig kry die dood ’n flambojante teëhanger in die jong man Jopie wat wil klere ontwerp; met Annelien Kriel as sy leidende ster wil uitbreek na die verre Kaap. Die dood daarenteen kry gestalte in ene Rotman, wat onder die dorpenaars kom woon. Hy asem die stof, want die stof is asbes, en jy moet twee keer dink as hy jou vir die jakkalsdans uitnooi.
Jopie se aanneem-pa, Mannetjies, dink hý moet boet oor sy minnares, Tryn. Of wil Rotman met sy vrou Aletta dans?
En al die tyd is hulle, soos al die mense op die dorp, onwetend vasgevang in iets groters as hulleself.
François Loots het naby Prieska in die Noord-Kaap grootgeword. Hy studeer Engels, Duits en Sielkunde aan die Universiteit van Kaapstad en Unisa en werk in die onderwys, landelike ontwikkeling en in die gedrukte media. Hy is die skrywer van vier romans. Rooi Jan Alleman,het op die Universiteit van Johannesburg-prys vir skeppende skryfwerk se kortlys verskyn. Nadat hy in die buiteland woonagtig was, woon en werk hy tans in Kaapstad.
Read more