Beeldskone Elzibi Nel, eks eerste prinses in ’n Mejuffrou Suid-Afrika kompetisie, het absoluut geen gemis in haar lewe nie. Sy is heeltemal gelukkig met haar vriende en haar gimnasium wat sy van haar huis af bedryf. Tot dokter Luca Cronje en sy twee seuntjies langs haar intrek. Haar hart klop dadelik vinniger, maar dis nie vir die aantreklike en arrogante pa nie, maar vir die twee seuntjies wat sonder ’n ma grootword. Opinies verander. Skielik is daar ’n gemis. ’n Leemte. Sy wens die kinders was hare. Dit raak erger toe Luca haar soen. Dit gaan nie meer oor die hondjie nie, maar oor die halsbandjie. Om Luca te besit is egter ’n onmoontlike droom, want haar beste vriendin het ook gevoelens vir Luca. Kies sy jare lange vriendskap of kies sy liefde?
Dina Botha is 'n liefdesverhaalskrywer wat al met vyf ATKV-Woordveertjies vereer is. Reeds as tiener was sy lief vir lees, maar sy het nooit formeel probeer skryf nie. In 2006 vervul sy op 42 een van haar groot hartsbegeertes, toe haar eerste Romanza, In ruil vir 'n hart, verskyn. Tans het sy 92 Romanzas, insluitend 8 SuperRomanzas, agter haar naam. Sy woon in Centurion saam met haar man en is die trotse ouma van twee kleinkinders.
Read more