Liefdesles is die derde en laaste boek in Vita se trilogie. Klaskamer en Skoolgeld was die eerste twee. Daniël en Emma se verhouding is steeds ingewikkeld: Daniël probeer sy vervreemde vrou, Sally, oorreed om die egskeiding toe te staan en Emma sukkel om vir Daniël te vertel dat sy swanger is. Sal Daniël haar steeds na sy klaskamer neem? Is BDSM veilig tydens swangerskap? Sal Daniël kan vrede maak met die verlede en sy verhouding as jong seun met die onderwyseres, die verhouding wat sy seksvoorkeure bepaal het, sien vir wat dit was? Vir Daniël en Emma kom die liefde uiteindelik met baie lesse.
Vita du Preez se eerste romanse As sterre blom het in 1996 verskyn terwyl sy voltyds as argivaris by die WNNR gewerk het. Daarna het verskeie titels uit haar pen die lig gesien. Skuiling van die hart is ’n persoonlike gunsteling van haar, en is ’n historiese roman wat tydens die Boereoor¬log afspeel. ’n Man vir Mia was ’n finalis vir die LAPA-liefdesverhaaltoekenning in 2005/2006.
Nadat sy in 2002 Kaap toe verhuis het, het sy vryskutvertaalwerk begin doen, wat later ’n heeltydse werk geword het. Sy het meer as sestig Mills & Boon en Har-lequin Intrigue-titels vertaal. Ná tien jaar in die bedryf het sy besluit genoeg is oorgenoeg en weer voltyds op haar skryfwerk begin fokus. Sy was lus vir ’n nuwe uitdaging en het besluit om ’n ander genre – liefdesro¬mans – aan te pak. Waar die son omdraai, haar eerste liefdesroman, het in 2014 verskyn. Tans skryf sy aan ’n reeks oor vier vroue waarvan die eerste twee Solitaire en Woestynroos reeds verskyn het.
Vita kry haar inspirasie uit die alledaagse, waar goeie en slegte goed met mense gebeur. Haar karakters is mense met wie moderne Afrikaanse vroue van alle ouderdomme kan identifiseer. Sy plaas hulle in realistiese situasies waar hulle met hedendaagse kwessies worstel wat alle vroue raak: verlies, egskeidings, swangerskappe, gesinsverhoudings, chauvinisme, uitdagings in die werkplek en natuurlik die liefde. Ge¬lukkige eindes, nes standvastige verhoudings, kan ons almal beskore wees as ons ons lewensvreugde, balans en humorsin behou, glo sy.
Deesdae woon Vita saam met haar man Riaan du Plessis in die Strand en wanneer sy nie skryf nie, maak sy tuin, lees en kuier saam met vriende.