Haar pa is ’n man van Duitse deeglikheid – maar verhard en ’n onverbiddelike heerser oor sy vrou en kinders. Daarom het Kato besluit die romantiek van ’n huwelik sal nie vir haar werk nie, nie eens ’n huwelik met haar beste vriend Stef nie. Wat Stef wel kan doen, is om haar hartsbegeerte te help vervul: ’n kind. En waarom nie? ’n Kind is ook sy groot droom en ook hy het besluit ’n huwelik met ’n vrou wat van hom afhanklik raak, is nie vir hom nie.
Vir Stef, ’n man wat weet hoe om van vroue te kry wat hy wil hê en dan sorgeloos sy lewe voort te sit, werk dit perfek. Ook vir Kato, ’n beroepsvrou wat nog nooit weerloos gevoel het nie.
Waarmee hulle nie rekening gehou het nie, is die oeroue instink wat by ouers ontwaak: om te beskerm en beskerm...
Vita du Preez se eerste romanse As sterre blom het in 1996 verskyn terwyl sy voltyds as argivaris by die WNNR gewerk het. Daarna het verskeie titels uit haar pen die lig gesien. Skuiling van die hart is ’n persoonlike gunsteling van haar, en is ’n historiese roman wat tydens die Boereoor¬log afspeel. ’n Man vir Mia was ’n finalis vir die LAPA-liefdesverhaaltoekenning in 2005/2006.
Nadat sy in 2002 Kaap toe verhuis het, het sy vryskutvertaalwerk begin doen, wat later ’n heeltydse werk geword het. Sy het meer as sestig Mills & Boon en Har-lequin Intrigue-titels vertaal. Ná tien jaar in die bedryf het sy besluit genoeg is oorgenoeg en weer voltyds op haar skryfwerk begin fokus. Sy was lus vir ’n nuwe uitdaging en het besluit om ’n ander genre – liefdesro¬mans – aan te pak. Waar die son omdraai, haar eerste liefdesroman, het in 2014 verskyn. Tans skryf sy aan ’n reeks oor vier vroue waarvan die eerste twee Solitaire en Woestynroos reeds verskyn het.
Vita kry haar inspirasie uit die alledaagse, waar goeie en slegte goed met mense gebeur. Haar karakters is mense met wie moderne Afrikaanse vroue van alle ouderdomme kan identifiseer. Sy plaas hulle in realistiese situasies waar hulle met hedendaagse kwessies worstel wat alle vroue raak: verlies, egskeidings, swangerskappe, gesinsverhoudings, chauvinisme, uitdagings in die werkplek en natuurlik die liefde. Ge¬lukkige eindes, nes standvastige verhoudings, kan ons almal beskore wees as ons ons lewensvreugde, balans en humorsin behou, glo sy.
Deesdae woon Vita saam met haar man Riaan du Plessis in die Strand en wanneer sy nie skryf nie, maak sy tuin, lees en kuier saam met vriende.