Zoë Landman se verfkontrak by die fabelagtige Milnerhuis gee haar ’n kykie op die lewe van die rykes en beroemdes … en Alan Alexander. Wie is Alan regtig en hoekom is hy so geheimsinnig oor sy doen en late? Duik hy regtig toevallig oral op waar sy is of agtervolg hy haar doelbewus? Al reageer Zoë se hart soos ’n wildsbok s’n wanneer sy net aan Alan dink, is daar vir hulle geen toekoms saam nie. Hulle wêrelde verskil bloot te veel, en dan is daar nog die kwessie van haar biologiese pa ook …
Dina Botha is 'n liefdesverhaalskrywer wat al met vyf ATKV-Woordveertjies vereer is. Reeds as tiener was sy lief vir lees, maar sy het nooit formeel probeer skryf nie. In 2006 vervul sy op 42 een van haar groot hartsbegeertes, toe haar eerste Romanza, In ruil vir 'n hart, verskyn. Tans het sy 92 Romanzas, insluitend 8 SuperRomanzas, agter haar naam. Sy woon in Centurion saam met haar man en is die trotse ouma van twee kleinkinders.
Read more