Wat as ʼn wildvreemdeling die man van haar drome is? Gabrielle de Klerk gebruik die Kiss a Stranger-app om die laaste item op haar wenslysie vir haar matriekvakansie in Parys te verwesenlik. Die speletjie het ongeskrewe reëls: geen inligting mag uitgeruil word nie en geen planne mag gemaak word om mekaar weer te sien nie. Net ʼn soen en dan moet jy aanbeweeg. Maar kan Gabrielle verby die man van haar drome beweeg wanneer sy hom weer jare later raak loop en boonop deur sy ouma gevra word om funksies vir hom te reël waar hy die room van die land se beskikbare jong dames kan ontmoet en onder hulle ʼn trouvrou vir hom soek?
Dina Botha is 'n liefdesverhaalskrywer wat al met vyf ATKV-Woordveertjies vereer is. Reeds as tiener was sy lief vir lees, maar sy het nooit formeel probeer skryf nie. In 2006 vervul sy op 42 een van haar groot hartsbegeertes, toe haar eerste Romanza, In ruil vir 'n hart, verskyn. Tans het sy 92 Romanzas, insluitend 8 SuperRomanzas, agter haar naam. Sy woon in Centurion saam met haar man en is die trotse ouma van twee kleinkinders.
Read more