Wie weet in watter gewaad storieboekliefde sy verskyning gaan maak? Om bibliotekaresse te wees op ’n dorpie soos Trompieshoogte is vir Marijke die maklikste manier om te verseker dat haar lewe teen ’n slakkepas nêrens heen sal gaan nie. Wat nog gepraat van haar liefdeslewe. Maar dan gewaar sy ’n nuwe gesig op die dorp, al is daai gesig nou wel ongeskeer, die hare te lank, en die klere taamlik verslons. Maar wat maak die skatryk entrepreneur Jean-Pierre Immelman in hierdie verlate uithoek, en hoekom lyk hy so afgerem? Dalk meer belangrik, wat is hierdie hartkloppings wat Marijke naby hom ervaar, en wat is die ooreenkoms wat hy met haar wil tref voor hy terugkeer na sy eie glansryke wêreld toe?
Dina Botha is 'n liefdesverhaalskrywer wat al met vyf ATKV-Woordveertjies vereer is. Reeds as tiener was sy lief vir lees, maar sy het nooit formeel probeer skryf nie. In 2006 vervul sy op 42 een van haar groot hartsbegeertes, toe haar eerste Romanza, In ruil vir 'n hart, verskyn. Tans het sy 92 Romanzas, insluitend 8 SuperRomanzas, agter haar naam. Sy woon in Centurion saam met haar man en is die trotse ouma van twee kleinkinders.
Read more