Predikantsdogter Vanessa word een oggend in Las Vegas wakker met die skokbesef: Sy het by haar verloofde se beste vriend geslaap én met hom getrou!
Nie sy of Luhan kan enigiets hiervan onthou nie en tog voel sy skielik heeltemal anders oor hom.
Nou kom hulle albei voor ’n baie moeilike lewenskeuse te staan: Was hul nag saam ’n enorme fout wat dreig om hul netjiese lewens te ontspoor of was dit juis die begin van ’n gelukkige lewe saam?
René van Zyl is 'n bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer met meer as twintig liefdesromans op haar kerfstok, asook jeugverhale en samesweringsromans. Sy is die wenner van die 2024 ATKV-Woordveertjie vir Romanses en die 2020 ROSA Imbali-toekenning.
Haar jeugromans is besonder gewild, waarvan Tuimeltrein, wat vanaf 2026 vir Graad 12 IEB/AET-leerders voorgeskryf is, getuig. Tieners geniet ook Die Monster in my Melkskommel (PRH) - 'n unieke spanningsverhaal wat sensitiewe kwessies rondom trauma op 'n empatiese én humoristiese wyse aanpak.
Haar ander werk sluit die samesweringsrillers Die Alfadokument en Die Omegakomplot in, asook die Middeleeuse aksie-avontuur-jeugverhaal Wee Monk's Tale: The Secret of Immortality. René is ook die skepper van die interaktiewe kinderkerk-kurrikulum Bybelboekwurm en het reeds meer as twaalf gemeenskapsmusiekproduksies geskryf en op die planke gebring. Haar verbeeldingsreise en stories help haar om 'n soms moeilike werklikheid te oorleef, en daarom is humor en hoop die twee wapens waarmee sy haar skryfwerk én die lewe aanpak.
Read more