Katrien is ’n student tydens die politieke woelinge en die Voëlvry-toer wat Suid-Afrika in die tagtigerjare tref. En in die verre Pole het ’n jong man pas duur betaal vir sy sin vir geregtigheid. Irma Joubert skryf oor mense. Haar romans lees so lekker, want hulle word deur die karakters gedryf. Joubert se lesers sal dit dus nie vreemd vind dat Katrien en Wladek mekaar vind in hierdie onstuimige tye nie. Dit is onafwendbaar dat hierdie twee karakters aangetrokke tot mekaar sal wees, hoewel hulle uit twee wêrelde, twee taalgroepe en verskillende kulture en godsdienste kom. Die gedeelde passie is hulle vurige betrokkenheid by ’n rewolusie teen die bestaande orde. Die einde moet ’n triomf vir die mens se binneste wees, anders is dit nie ’n Irma Joubert-teks nie....
Irma Joubert is gebore en getoë in die Bosveld (Nylstroom) en het aan UP studeer. Sy het vir 35 jaar onderwys gegee (Afrikaans en Geskiedenis vir senior sekondêre leerders) voordat sy einde 2004 afgetree en begin skryf het. Sy publiseer verskeie artikels en kortverhale in tydskrifte en word in 2005 aangewys as Media24 se “Spesialis Joernalis van die Jaar”. Beide haar Tussen stasies-trilogie en haar Pontenilo-trilogie, asook die eerste boek van haar Oorlogstrilogie, naamlik Immer wes, is in Nederlands vertaal waar dit telkens onder die topverkopers tel. Vier van haar boeke is reeds in Duits vertaal en HarperCollins in Amerika het The girl from the train (Tussen stasies) in 2015 wêreldwyd bekend gestel. Irma se stokperdjies is lees en kook, veral buitelug kokerasies. Haar gunsteling vakansieplek is die boendoes: woestyn-boendoes, Transkei-boendoes, Bosveld-boendoes, Afrika-boendoes.
Read more
No biography available for this author.