Xia het ’n broertjie dood aan ryk mense. Meer nog ryk mans. En veral ryk pierewaaiers soos Duart Emmerich Hy’s die soort wat duisende kilometer op sy luuksejag rondseil en ure lank ledige praatjies met sy ewige ledige vriende maak. Partytjies, pret, plesier is sy lewe. En natuurlik vroumense. Xia weier om ook ’n kerfie op sy kerfstok te word. Al is hy hoe onweerstaanbaar. Sy word gedwing om tyd saam met hom deur te bring. As platsakjoernalis is hy haar volgende salaristjek. Maar wie is dié eks-rekenaar-nerd cum entrepreneur werklik? Steek daar meer in hom? En waarom voel dit al vir haar asof hy haar soos ’n vis bietjies-bietjies inkatrol?
Dina Botha is 'n liefdesverhaalskrywer wat al met vyf ATKV-Woordveertjies vereer is. Reeds as tiener was sy lief vir lees, maar sy het nooit formeel probeer skryf nie. In 2006 vervul sy op 42 een van haar groot hartsbegeertes, toe haar eerste Romanza, In ruil vir 'n hart, verskyn. Tans het sy 92 Romanzas, insluitend 8 SuperRomanzas, agter haar naam. Sy woon in Centurion saam met haar man en is die trotse ouma van twee kleinkinders.
Read more