Search for your favourite author or book

Voëlvry

Information about the book
“’n Lasbrief is uitgereik vir die inhegtenisneming van erekonsul Hans-Joachim Kramer, tot onlangs van die Ganghoferweg nommer 2, Bad Heilbrunn in die Beiere, wat vermoedelik na Afrika uitgewyk het.
“Ons onderneem om hom sonder verslapping te agtervolg, waar hy hom ook al in die wêreld mag bevind. Al sou dit ook in die onderwêreld wees, ons sal hom uiteindelik vind en tot rekenskap dwing.
 
“Die Bundesregering versoek die onmiddellike uitlewering van een van die mees berugte swendelaars in die geskiedenis van die Duitse Republiek, die pierewaaier en kamma-grootwildjagter Hans Kramer. Hy het hier, reg onder ons oë, reeds honderde gemeenskappe in vals ondernemings betrek, waardeur hulle gesamentlik meer as dertig miljoen euro se swaarverworwe spaargeld verloor het.”
 
Die persoon in beheer van die ondersoek is die Bundesminister van justisie, Frau Brigitte Schneider. Sy het ’n formidabele sisteem tot haar beskikking – nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal. Ná hierdie persverklaring is foonafsprake met verskeie Afrika-leiers op haar program.
 
Vanaand drink sy gemoedelik ’n glas skuimende Duitse Pilsener saam met die Namibiese minister van veteranesake, kameraad Ngarikutuke Tjiriange, wat spesiaal in die land is om Duits-Namibiese betrekkinge te bevorder. ’n Hele boel tegnici sit gereed om dit te beeldsend, oorfone reeds oor die koppe gehaak en die oë stip op die rekenaarskerms genael. Sy sal nog sien waaroor die gesprek handel – hy het glo iets te prate oor skedels, boetedoening en die teruggawe van die verlore verlede – maar op haar eie lysie staan Kramer heel bo aan die agenda. Genugtig! ’n Mens kan darem nie so blatant met jou laat mors nie!
 
Sy het alreeds haar berugte oudkollega Pfeifer, “die Pyproker”, gekontak. Hy is nou afgetree as takbokjagter in die Swartwoud, maar sy het hom opdrag gegee om sy internasionale netwerk van huursoldate, geheime agente en regsgeleerdes by die saak te betrek. En as Pfeifer eers die snuf gekry het, is daar min wegkomkans, al reis jy ook hoe ver.
 
“Ons het reeds al Kramer se ou uithangplekke nagegaan, en sal nie skroom om sy spoor te vat waarheen dit ook al mag lei nie,” stel Frau Schneider die volk gerus.
 
Die volgende dag basuin die koerante dit in hoofopskrifte uit: Grootste finansieel-politieke skandaal sedert die oorlog! Miljoene verswendel! Nasie sidder! Is so iets nog moontlik in moderne tye?
Interpol het ’n baie presiese beskrywing van Kramer uitgereik: Middeljarig. Blank. Lank en lenig, met groot ore. Donker oë. Groot geelwit oogballe, wat hy akrobaties aanwend. Donker gelaatstrekke met swart krulhare, agteroor gekam. Sy ruwe wenkbroue is ’n opvallende gelaatstrek. Hy loop graag geklee in ’n safari-tipe Afrika-uitrusting van bruin kakiebroek en oopnek-kakiehemp met offisierslapelle. Is geneig om op ’n Clark Gable/Cary Grant-manier te frons met die hele voorkop ’n rimpeling van geamuseerdheid, die een wenkbrou hoër gelig as die ander. Gaan gebuk onder die naam Hans-Joachim, kortweg Hans. Geen ander aliasse nie. Rook Stuyvesant-sigarette met filters. Gereelde drinker van wyn en whisky, soms in matige hoeveelhede, soms minder so. Berug as haan by die skoner geslag.
Vang nou ’n man op só ’n baadjie getakseer!