Eleanor Lombard is in 1950 in Kaapstad gebore. Op skool in Hoërskool Kemptonpark blink sy uit in drama en ontvang in haar matriekjaar ‘n ATKV-jeugtoneel oorkonde as beste toneelspeelster in Transvaal. Na haar skoolloopbaan verwerf sy ‘n BA graad aan Tukkies, ‘n onderwysdiploma (met lof) in Potchefstroom en ‘n honneursgraad in geskiedenis aan UNISA. Tydens haar onderwysloopbaan is sy lektrise in Afrikaans aan die Bellville Opleidingskollege. Sy en haar man, Pieter, is lief vir reis en sy publiseer gereeld reisartikels. Sy skryf ook verskeie radiodramas en was ‘n finalis in die RSG/Sanlam radiodrama-skryfkompetisie. Sy debuteer in 2022 met Jy handle dit net. Eleanor en Pieter woon tans in Tergniet, naby Mosselbaai. Sy is die ma van drie kinders en die trotse ouma van twee kleinkinders.