Search for your favourite author or book

Die heelal op my tong

ISBN 
9781485904106
Format 
Paperback
Recommended Price 
R300.00
Published 
October 2020
About the book: 
Elkeen het ’n heelal in hul mond. Keuses wat jou wentelbaan van uur tot uur bepaal.
 
Willemien is keelvol vir dik wees. En bang wees vir kaas en vir inkopies doen. Hoe kan mens so verwyderd van jouself wees dat jy van buite liederlik obees is, maar in jou kop sing jy vry en kaal op ’n krans? Sy wonder waar kom die rondomskrik van haar lyf vandaan terwyl sy en haar sus in die vretende hitte van die Richtersveld ’n kluis in ’n winkeltrollie sleep. Willemien is vasbeslote om dit oor ’n afgrond te boender.
 
Voor hul eindbestemming het die langpad se strepe Willemien soos ’n ritssluiter oopgetrek. Dit smaak haar daar is ’n heelal op haar tong. Vir eens moes sy haar sprokieskarakter opgee om haar ware self te wees én te wys. Sy het dekades laas haar lyf bewoon. Haar suster moes hoor van die verlede. Van hul aardige ouers wat banger was vir oorgewig as ’n grondeis. ’n Ma wat paniekaanvalle oor suiwel en selluliet gekry het en ’n pa wat geen imperfeksie by sy vrou of dogters geduld het nie. Kilogram vir kilogram wou Willemien bieg en haarself dun praat. Die tong het immers mag oor lewe en dood.
 
Dié is ook die storie van Pa. Húlle pa. ’n Lagslimme Afrikaanse Al Capone, wie se innoverende sakeondernemings hom soms gedwing het om sy kantoor van agter tralies te bedryf. In Palm Springs dra Pa se lyfwagte koeldrank vir die fbi-agente aan vanwaar hulle die dollarboer en sy trigger-happy brigade dophou.
 
Van Kaapstad na San Francisco en ’n dwelmdieet in Sri Lanka – met ontvoerings, partytjies, ’n seksles in Hongkong se hawe en ’n onvermydelike ontmoeting met ’n onbekende man – tref Anoeschka von Meck se nuutste roman jou soos ’n reusegolf en spoel sy die verhoudings oop wat van ons soekende, spirituele wesens maak.
 
Other titles by this author 
About the Author

Anoeschka von Meck woon aan die voet van die Hantamberge, waar tyd vryevoet maak. Dikwels wanneer sy in die veld loop, kan sy nog in talle kinderdinge glo. Sy woon tans op die platteland en probeer ’n resep vir suiwelvrye kaas te vervolmaak. Sy beskou haarself as ’n interdimensionele ewigheidswese wat oortuig is ’n bonatuurlike lewe behoort die nuwe normaal te wees.

Sy debuteer met die wegholsukses Vaselinetjie, wat meer as 100 000 boeke verkoop het. Dié roman wen die Jan Rabieprys, die mer-prys vir jeuglektuur en ’n M-Net-prys. Die filmweergawe word as beste rolprent by die Silwerskermfees in 2017 bekroon en wen die titel Best Humanitarian Film by die Sedona International Film Festival in 2018.

Von Meck, wie se mense boere in die suide van Namibië was, het haar loopbaan as joernalis by Die Republikein in Windhoek begin. Sy het by verskeie koerante, insluitende Rapport in Kaap­stad gewerk. In 2014 word sy aangewys as Beste Harde Nuus-skrywer vir gemeenskapskoerante.

Haar eerste roman, Annerkant die longdrop, verskyn in 1997 en Die Ontwaking: Die lewe van Essie Honiball, ’n biografie oor dié mistieke denker, in 2010.

In 2016 reis Von Meck alleen deur Suid-Afrika en maak sewe maande lank opnames vir Afrikaans.com oor unieke variasies in Afrikaans. Sy durf weer die langpad aan in 2019, hierdie keer om onderhoude met boere in droogte te voer. Net voor die droogte my breek verskyn dieselfde jaar.

Op sestien het Von Meck haar pa oorsee gevolg. Sy het haar skoolrekord met Tipp-Ex vervals en nooit standerd agt voltooi nie. Deur genade alleen word sy later by John F Kennedy University in San Francisco toegelaat, waar sy marinebiologie en vergelykende godsdiens studeer. Later ver­werf sy ’n wettige BA-graad in argeologie aan die Universiteit van Kaapstad. Hierna volg ’n HOD en ’n meestersgraad in Antieke Oosterse Studies aan die Universiteit van Stellenbosch, asook ’n dok­torsgraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria.

In 2020 verskyn Die heelal op my tong.

 

 

Others also viewed

Rand en sent, gegrond op die gewilde gelyknamige RSG-program, is ’n onontbeerlike gids tot...
Jamie's Super Food Family Classics continues with the popular philosophy behind Jamie's...
Natasha: I’m a girl who believes in science and facts. Not fate. Not destiny. Or dreams...
The No. 1 Indy Best Celebrity Cookbook for 2017. Packed with over 650 everyday Mary Berry recipes,...