Search for your favourite author or book

Bomskok

Information about the book
Met haar groot swart oë en ’n lyfie wat lyk of hy in twee sal breek as mens te hard daaraan vat, benewel Miet Zeekoe almal in ’n oog¬wink. Hulle wil haar in hulle arms toevou en tot die oordeelsdag teen die bose wêreld beskerm. Eers DAN sal hulle haar naai dat die rook trek. 
Miet is 22 en lyk enigiets tussen 14 en 18. Sy word soms vir ’n seuntjie aangesien, veral deur tannies wie se kinders al uit die huis is en wat nog nie kleinkinders het nie, en veral wanneer sy die verkeerde soort bra dra. Juis daaroor het sy twee lang rokke op Greenmarket Square gevat, sonder die vrou by die stalletjie se toestemming. Sy weet sy hoef nie om vergifnis te bid nie, want die Here weet mos sy gaan die geld bring sodra sy eendag kan en hy’s nie haastig nie. ’n Duisend jaar is vir Hom soos ’n dag en ’n dag soos ’n duisend jaar. 
Miet begin vandag haar eerste grootmenswerk, as intern by Vryheid op Vrydag, ’n koerant met ’n oplaag van 15 000 (wanneer Tom Kemp, die redakteur, in Frankryk, Holland of Swede gaan geld bedel) of 7 000 (wanneer die getalle van die verspreiders terugkom). 
Vryheid op Vrydag se kantore is in ’n ou bankgebou in New-town, naby die middelpunt van ’n nuwe soort Suid-Afrika, met ’n omtrek van hoogstens ’n kilometer of twee, wat selfs vyf jaar gelede ondenkbaar was. Hier is liefde oor die kleurgrens heen byvoorbeeld soos enige ander soort liefde: alledaags, morsig en vervlietend. 
Die redaksie het gestem oor die koerant se naam. Die naam waarvoor hulle gestem het, was Assegaai. Tom het hulle gevra of hulle fokken stupid is. Lefty Afrikaners ken tog ook die verhaal van Piet Retief en Dingaan. Op die oomblik voel die meeste wittes in die land ’n bietjie soos Piet Retief. ’n Koerant met ’n naam wat hulle herinner aan die Voortrekkerheld se onderhandelings met ’n swart meerderheid gaan allermins die struggle bevorder. 
Dit gaan die AWB se ledetal die hoogte laat inskiet. 
Tom se eerste voorstel was Liberté. Nou watsit met die flippen Franse kak? Ag, dis eenvoudig. Jy moet punte score by die mense wat die geld uithaal. Nederlands is te naby aan Afrikaans. Wie ver¬staan Sweeds behalwe die Swede? Wat oorbly, is Frans. Liberté. Vryheid. Dis tog die boodskap. 
Maar nee. Brandt Avenant het sy kop eers geskud en toe in sy hande laat wegsink. Terwyl hy aanhou skud. Hy’t nie ’n woord gesê nie, maar Tom het geweet wat hom pla. Nee. Ons is deel van die ge¬peupel, maar dis ’n ander gepeupel as die gepeupel van die Franse Rewolusie. Ons gepeupel voel ’n fok vir woorde wat ons nie kan uitspreek nie. 
Orraait. Die vergadering is ontbind sodat almal nog ’n slag kan dink. Die volgende oggend het Tom ingestap en aangekondig die naam is Vryheid op Vrydag. Waarvoor veg ons die ander ses dae van die week? het Brandt gewonder. Hy wou nog sê sy stem gaan vir Meidnaai op Maandag, maar hy’t hom bedink. Dan is die dead¬line Sondag en hy wil nie Sondae werk nie. 
Miet sukkel teen die trappe op met ’n groot bruin tas wat haar hele lewe bevat: ’n week se klere, vier boeke (’n Bybel, ’n tweetalige skoolwoordeboek met die biblioteek se kaartjie nog agter in, haar oorlede ouma se Kook en Geniet en haar ID-boekie), ’n lipstiffie, kamferroom, ’n naelknipper, ’n koekie seep wat iemand in die trein se badkamer vergeet het, ’n waslap en tandeborselgoed. En ditjies en datjies waaraan Miet nou liewer nie wil dink nie. 
Antie An, Vryheid se ontvangsdame, het haar oor die foon be¬lieg, maar nie aspris nie, toe Miet van die stasie af bel nadat sy ’n uur en ’n half gewag het dat iemand haar kom oplaai, soos hulle met haar afgespreek het. Sy’t net R53.50 gehad en wou nie geld op ’n taxi mors nie. 
“Ag, liefieling, jy kan maklik stap. Goed. Mik suid. Deur die tonnel by die kaartjieskantoor en af in die pad. Verby De Villiers en Plein. Of is dit eers Plein, dan De Villiers? Hoe ook al. Regs af in Breë. In ’n westelike rigting. Ag, jy’s sommer nounounounou hier.” 
Antie An het nie geweet van Miet se swaar tas nie, maar nog¬tans. Gelukkig het ’n jong mannetjie met ’n Checkers-trollie haar gesien sukkel. Hy’t haar tas in die trollie gelaai en vrolik die pad gevat. Hy’t nog nooit van Vryheid op Vrydag gehoor nie en voor¬gestel hulle vra maar soos hulle stap. Ná ’n ent het Miet begin dink hulle is al verby, maar hy’t gesê nee, iemand sou geweet het. 
Aha! Miet het onthou wat Tom gesê het: dis ’n blok voor die Markteater. Van die Markteater het mense wel gehoor. Reguit sountoe, het ’n ronde vroutjie met ’n oranje kopdoek beduie. 
Johannesburg. “Dis soos ’n ander land, kindjie,” het ’n oompie wat eenkeer vir ’n begrafnis hier was haar vertel. En dit ís an¬ders. Maar ook nie só anders nie. Mense staan oral en babbel en die malle geskarrel waarvan almal so verwonderd praat, is nie anders as Kaapstad soggens vroeg en saans hier teen vyfuur se koers nie. Sy’s opgewonde oor haar nuwe lewe en glad niks bang nie. Mens hoor amper nie Afrikaans nie. Sy hou daarvan. Dis seker dié dat dit soos ’n ander land voel. En die mans kyk, maar hulle sê niks en hulle vloek haar nie onder haar ma se skirt in as sy maak of sy hulle nie sien nie. 
Toe hulle by die Markteater kom, draai hulle om. Sy weet ook dis die regte gebou toe sy voor Vryheid op Vrydag se deur staan, al is daar nie ’n naambordjie op nie en al lyk dit glad nie soos die prentjie in haar kop nie. Die gebou is oud en vuil en presies net reg. Die mannetjie laai haar tas af. “Dankie! Dis was gaaf.” Hy bly lank staan. O. O ja. In haar hand het sy 20c wat sy reg gehou het vir die foon. “Thank you, madam!” En hy’s weg. 
Miet kon nie ’n beter tyd gekies het om oor Vryheid op Vrydag se drumpel te sukkel nie. Sy was bang sy maak ’n swak eerste indruk, natgesweet en moeg. Sy weet sy lyk wees. Niemand kyk op nie. Al wat mens hoor, is die gekletter en gekwetter van ’n dolle getik. Dis Donderdag. Dis deadline-dag. 
“Haaia. Hallo.” 
“Miet?” vra Antie An en spring op om met die tas te help. 
“Ja, mevrou.” Mens kan sien Antie An is ’n mevrou. 
“Het jy toe die plek gekry? Ek’s bly! Welkom, kindjie. Ek sê gou vir Tom. Haai! Tom, hallo, Tom!” Tom se kantoor is aan die oorkant van die groot vertrek waar die res van die redaksie sit en werk. Antie An moet skree. “Tom! Hooi! Ons meisietjie! Ons mei¬sietjie is hier! TOM! Ag askies Jas, askies.” 
Jas Walters lig sy kop effens. Sy nek is verlê. Hy’t ’n deel van die nag en die hele oggend op ’n groot wynrooi bank langs Antie An se tafel deurgebring. Jas se sportblaaie is klaar. Die plan was om ’n bietjie voor te kom en die blaaie vanoggend af te gooi, maar hoe later hy gesit het, hoe minder lus was hy om huis toe te ry. Toe hou hy maar aan skryf en maak later die blaaie op. 
Hy’t kwart oor vier op die bank kom uitspan. Jas se blaaie is gewoonlik laaste klaar. Vandag is hulle eerste. Hy was nie lus om te maak of hy aan ’n groot storie vir volgende week se koerant werk en by die huis klaar te gaan slaap nie. Toe kom krul hy maar weer op die bank op en dink okay, die geld is kak maar ek hou van die byvoordele. 
Nugter weet hoe lank hy nog daar sou gelê het as Antie An hom nie wakker geskree het nie. Hy loer slaperig deur een skrefiesogie in die rigting van die geraas. Tot hy vir Miet sien. Toe’s hy wakker. 
Tom kyk op van sy rekenaarskerm, effens geïrriteerd. Sy kom¬mentaarstuk oor Swapo se mense wat mekaar so opfok en uitwis is ’n etter van ’n ding. Maar toe hy opstaan, is die storie vir eers vergete. Tom voel ’n redakteur moet soos ’n redakteur lyk. Nie enige redakteur nie. Die redakteur van Vryheid op Vrydag. Vreesloos. Onverskrokke. Hy het skoene uit Italië en ’n hemp uit Sandton City aan by sy ou verbleikte Levi’s. Sy baard is netjies getrim en sy hare presies deurmekaar genoeg. 
“Bly om jou hier te hê, Miet.” Hy draai effens weg. “Folks, Miet. 
Miet, folks. Julle nuwe kollega.” 
Sy luister nie rêrig toe Tom haar aan die redaksie voorstel nie; sy sal hulle name later leer ken. Te veel goed vir een dag. 
Alex Aksel gee haar ’n warm drukkie. Hy het drama geswot en wou akteur word voor hy die struggle ontdek het. Emma Eden, die kunsredakteur, wat net nou die dag haar boyfriend met ’n chop¬stick in die oog probeer steek het omdat hy so fokken aangaan oor kak, dink o, fok, wat het ons hier. Jas kyk verlangend na Miet uit sy posisie op die bank, maar dis nie haar lyfie of haar mond of haar oë of selfs die dun litteken wat langs haar oulike neusie afloop wat die melankolie in hom laat opwel nie. Dis haar jeug. Haar onskuld. Op 27 is Jas oor die muur. 
Hy is nogal trots op sy storie oor Jerry “The Spirit” Cebekhulu, ’n briljante middelgewig uit die sestigs wat Maandag arm en ver¬gete in ’n shack aan tering dood is. Maak mens so blerriewil sad, hierdie goed. Hy was eintlik besig om ’n ander storie te jaag toe hy van oom Jerry hoor. Hy was besig om te kyk wat hy kan uitvind oor Sonny Josephs. Daar loop lelike rumours oor Sonny Josephs. Lelik. Dit kan ’n groot storie wees, daai. Dit kan ’n moerse groot storie wees. 
Net Brandt, die sub, steur hom glad nie aan die klein bohaai oor Miet nie. Of wag ... daar moer hy amper sy koffie op sy keyboard om. Dala Anker sou graag ordentlik wou groet, maar soos altyd skryf sy die helfte van die koerant vol en Miet sal moet wag. Hulle kan inhaal wanneer die druk bedaar het. Sy sal Miet sommer aan ’n paar contacts voorstel. Sy weet hoe moeilik is dit, so alleen in ’n nuwe stad. En dalk ’n drienkie die naweek of so. 
Dala is die een wat Miet se aandag trek. Sy lyk soos die koe¬rantmense op TV. Haar klere is gekreukel en daar hang ’n rook¬wolk om haar kop. 
Tom kan ook nie eintlik bekostig om nou nog tyd aan Miet af te staan nie, al wil hy hoe graag. Hy’t vroeër die week nagmerries gehad oor Zarp Kriek se storie. Dit gaan oor “die gate”, kerkers waarin Swapo sy eie mense toesluit wanneer hulle van verraad ver¬dink word. In die gate word die gevangenes uitgehonger en gemar¬tel tot hulle bieg, waarna hulle gewoonlik vermoor of erger gemar¬tel word. Dié wat lewend uitkom, omdat Sam Nujoma of wie ook al so besluit, is so gefok dat mens om hulle onthalwe wens hulle was eerder dood. Sê Zarp. 
En nou moet Tom aan sy lesers verduidelik wat dit beteken. Is Swapo se mense die barbare wat die wittes in Suidwes beweer? Die wittes van wie die helfte bloedfamilie is van Hitler, en die an-der helfte bloedfamilie van DF Malan. Marteling en moord. Dis ’n nuwe konsep daai. 
“FUCK ... SAKES!” Brandt staan so vinnig op, sy stoel skiet agteruit en kantel op sy plastiekwieletjies voordat swaartekrag 
hom stabiliseer. Hy tref ’n staalkabinet met ’n helse slag. 
Zarp se storie is op Brandt se skerm. 
“Hoor wat skryf hierdie fokken ou: ‘Volgens ons bron is, of was, 4 000 van Swapo se 50 000 lede in die ondergrondse selle wat die organisasie vir hierdie doel geskep het. 2 000 van hulle is vermoor. Dis indrukwekkende syfers.’ 
“Indrukwekkend? Indrukwekkend? Bedoel hy eintlik skokkend? Of bedoel hy indrukwekkend, maar met ironie? Of is hy rêrig impressed? Of weet hy self nie wat de fok hy bedoel nie? Is hy een¬voudig dommer as kak?” 
Dis nie waaraan Miet gewoond is nie. Dis baie anders as die technikon se koerant, dié. 
Zarp se stories het Vryheid op Vrydag se naam gemaak. Maar tog, maar tog ... Brandt wonder hoe hy so baie weet, en oor die dudes in suits en blink skoene en sonbrille saam met wie hy soms in ’n eetplek sit en fluister. Dis nie altyd dieselfde dudes of dieselfde eetplek nie, maar die suits en sonbrille en skoene is identies. 
En nog ’n ding: sy stories het die cops en die regering al lelik seergemaak. Hoekom het niemand hom nog probeer uithaal nie? Ja, okay, hulle – as dit hulle was – het brake fluid op sy Toyota ge¬gooi en die paint job geheel en al opgefok. Maar wat? Dis ’n ou kar. Die versekering het nie uitbetaal nie. Zarp het Tom omgepraat om vir hom een van Vryheid se Citi Golfs te leen en sy Toyota vir die werk in te span. 
Niemand het Zarp nog in ’n gangetjie ingesleep en dik gebliksem nie, wat nog te sê ’n T-shirt met gif aan vir sy girlfriend se kin¬ders gepos. Hy kry elke week doodsdreigemente, maar dis tog nor¬maal. 
Alex, wat dalk by Umkhonto we Sizwe sou aangesluit het as hy nie ’n pasifis was, en as hy nie flou geval het wanneer hy bloed sien nie, is die een wat hom Zarp begin noem het, laat een aand in die Jaart. Oor al die polisie-contacts. Sy regte naam is Zirk. Dit was ’n grappie, sonder bybedoelings, maar Zirk – Zarp – het moer gestrip, wat ’n kak move was, want van toe af noem almal hom Zarp. 
So. Brandt dink te veel van Zarp se contacts kom uit die dae toe hy die polisie-beat gecover het vir Beeld, die dagblad waarvoor Tom ook lank, lank gelede gewerk het en wat volgens sy beskry¬wing so diep in FW de Klerk se hol opgekruip is, hulle kan sy klein¬tongetjie van binne af kielie. 
Tom loop tot agter Brandt en gee hom ’n ligte kloppie op die skouer. “Bedaar, broer. Bedaar. Dis mos hoekom jy hier is. Hulle bring die woorde, jy maak die musiek. As almal se werk volmaak was, was jy uit ’n job uit.” 
“Ag, fokof, Tom.” Hy sê dit saggies. “Waar gaan die storie staan?” 
Vryheid op Vrydag word effens anders aanmekaargesit as die meeste ander koerante. By koerante soos Beeld word die storie ge¬skryf, dan vaagweg deur ’n nuusredakteur of herskrywer reggetim¬mer. Senior mense besluit redelik vroeg in die proses waar die storie gebruik word. Dan gaan hy bladopmakers toe en hulle stuur hom vir die subs. By Vryheid doen Brandt amper al die skaaf- en skuurwerk. Af en toe spring Tom of Jas in as Brandt nie kan voorbly nie. 
Tom neem die groot besluite. Hy vra Dala en Jas en Brandt en Zarp om hulle menings, maar as hulle oplet, sal hulle sien hy vee sy gat daaraan af. Die verslaggewers verkies om saam met Brandt te werk eerder as saam met Tom of Jas, al verskree hy hulle soms en al sê hy gereeld by Vrydagoggend se vergaderings, waar hulle die koerant krities bekyk, dié of daai storie is ’n gruwel in die oë van die Here. 
Brandt het respek vir die verslaggewers se werk. Hy gee hulle altyd ’n kans om ’n ding op hulle eie manier te sê. Hy wil nie hulle moed breek nie. Hy wil hê hulle moet beter skryf. 
Tom zoem net deur ’n storie en brom binnensmonds en dan weet jy jy gaan Vrydag kak by die meeting. Niemand wil hê Tom moet hulle stories onder oë kry voor Brandt al die kinkels uitgestryk het nie. 
Jas is ’n ander kalant. Hy klaar die feite met die verslaggewer uit en dan skryf hy die storie van voor tot agter oor. 
Wanneer Brandt (of Jas of Tom) klaar is, kry die bladopmaker, Linet Kordier, die stories met die koppe klaar geskryf. Sy moet hulle maak pas, of Brandt loer sommer oor haar skouer as sy hulp vra. Tom gaan lead met die storie. Volbladfoto van Nujoma op die cover met ’n headline wat skree: GATSLAG. 
Mens kan jou maklik verbeel Tom is tegelykertyd diep ontroer, ongeërg, vrolik en dik die moer in. Hy is allermins ongevoelig, soos veral Dala soms dink. Maar die roem wat hy as redakteur van Vry¬heid op Vrydag verwerf het, fok met sy kop. Nie die roem self nie. Eerder die onderhoude op CNN. Tom beskou homself as ’n wêreldburger. Hy’t wyd gelees en ver gereis. 
Hy’t al 26 lande besoek en blad geskud met staatshoofde, rebel¬leleiers, groot filosowe en Danie Gerber. 
Maar elke keer wanneer CNN se kameras begin rol, voel hy soos ’n seun affie plaas. Hy was altyd spontaan en vol grappe. Maar toe begin hy voel dis belangrik dat hy sy diep, somber boodskap met die regte gesiguitdrukking onderskraag. Spontaan en reguit is eenvoudig nie meer genoeg nie. Grappe? Hulle pak hy uit sodra die klankman sy toerusting wegpak. Hy het baie ure voor die spieël deurgebring. Verbasend genoeg vertolk Tom, wat op 40 moes leer toneel speel, sy nuwe rol heel skaflik. Dit sal dalk ’n oordrywing wees om te sê die kamera is verlief op Tom Kemp. Maar Tom Kemp is sonder twyfel verlief op die kamera. 
CNN se mense het gejubel. Hier is ’n man wat die tragiese ver¬haal van ’n land wat brand met hartstog en insig aan die wêreld kan oordra. ’n Afrikaner wat anders is; ’n Afrikaner met beginsels en duur skoene. 
Als in die haak. Maar waar die probleem inkom, is dat Tom suk¬kel om sy CNN-persona af te haal. Soms betrap hy hom waar hy wonder watter gesiguitdrukking die beste by sy woorde sal pas wanneer hy saam met ’n lover in die bed lê en sê dis lekker as sy dit doen. Of dat. Veral dat. Soms is daar ’n botsing tussen Tom se gevoel en die gesiguitdrukking wat hy vir die gegewe oomblik uit-kies. Die twee kanselleer mekaar uit en dan lyk dit of hy fokol voel. Dis nie waar nie. 
Hy is nou juis diep geraak oor die soveelste verhaal van poli¬siewandade; die een van Alex op bladsy vyf waarin ’n oumatjie van 82 met jig en osteoperose dwarsdeur die nag op ’n baksteen moes staan omdat sy nie haar kleinseun se skuilplek wou verklap nie. Sy’t nie eers die vraag verstaan nie. As Tom al die feite gehad het, het hy dalk opgecrack. Maar al wat hy sien, is die koerantweer¬gawe. Die familie se weergawe. Alex se weergawe. 
Alex is ’n goeie joernalis en sy vermoë om ’n ding gestroop en saaklik te tel, al is dit hoe emosioneel gelaai, is iets wat Tom waar¬deer en bewonder. Want Alex het ’n sagte hart wat hy moet onder¬druk wanneer hy agter die rekenaar inskuif. Sy traansakkies kyk binnetoe, sê Tom. 
Hier is die volle verhaal, waarvan Alex net die raamwerk by die familie ontvang het; die oumatjie was te swak om als te vertel: Sy’s halfses die aand aangesê om op die baksteen te staan. Dit klink dalk nie so erg nie. Die cops doen tog veel erger goed. Hoeveel ver¬meende aktiviste is al in daardie einste gebou doodgeskop? Mens hoor soms die geskree wanneer jy onder in die straat verbystap. Jy hoef nie, soos Ahmed Timol, ’n lid van die SA Kommunisteparty te wees om daar vermoor te word nie. Soms is jou swart vel genoeg om ’n marteldood te regverdig. As jy ’n swart vel het, is jy ’n ver¬meende terroris. 
In 1971, toe Timol van die tiende vloer deur die venster gesmyt is, het die cops sy dood bevestig en aan selfmoord toegeskryf. Nou raak mense eenvoudig weg wanneer hulle hier ingeboender word. Jy wil weet waar’s jou seun? Gaan staan agter in die ry, my boy. 
Die oumatjie het nie gehuil nie. Daar was ’n alsation in die hoek. Hy’t gegrom as sy beweeg. Hy was daar omdat sy gesê het sy’s bang vir honde. 
Sy’s nie toegelaat om die badkamer te gebruik nie en haar sme¬king om ’n glas water is beantwoord met: “Nee, gots, oumeid. Dan moet jy oor ’n uur weer teen jou bene af pis. En jy wéét mos hoe dit brand.” Van daardie deel weet Tom nie. Hy weet wel hulle het haar nege-uur die volgende oggend laat gaan. Sy’t op die trappies van John Vorsterplein inmekaargesak, lelik geval en haar heup ge¬breek. Sy’s twee dae later dood. Die presiese oorsaak kon Alex nie vasstel nie. 
Maar voor Tom binnetoe of buitentoe kan huil, is oumatjie ver¬gete en wonder hy of Bien Boonvliet, die sexy Hollander, die warm