Search for your favourite author or book

Dol Heuning

Information about the book
Die verhale in Dol heuning  kring soos breedtegrade om ’n aardbol uit – van Suid-Afrika na Ysland, die Belgiese platteland en die Italiaanse Alpe.
 
In ’n boomryke Kaapstadse woonbuurt koester ’n paar hul seuntjie terwyl hul skoonmaker se kind in volle aangesig van die land se ongeregtighede moet staan.
 
In die yslandskap van Reykjavic sluk ’n vrou dol heuning saam met die man wat haar vir ’n ander verruil het
en bring hulle ’n angswekkende aand saam met ’n gewelddadige Rus en sy metgesel deur.
 
Terwyl twee minnaars in New England aan die wreedheid van hul gasheer uitgelewer word toe sy menslikheid hom verlaat,
ontferm ’n ma haar oor ’n straatkind op Park-stasie.
 
Die verhaalsiklus wat die kroon span, vertel hoe ’n jong Namibiër en sy Japannese vriendin ’n tragedie in die berge
en ’n nag in ’n beklemmende chateau met ’n poel vol gloeiende palings beleef.
 
Ná die veelbekroonde Alfabet van die voëls, publiseer SJ Naudé ’n tweede bundel kortverhale wat ontstel, verras, en boweal bekoor.
 
 
 
UITTREKSEL:
 
“Jy skyn soos ’n lamp,” sê Andrew toe sy kom sit. Sy haal diep asem, herwin haar ewewig. Sy voel nie ontsteld nie.
Die bloed pomp egalig deur haar are; haar vel vang elke sein in die lug op.
 
Sy fokus op die pakkie wat Andrew nou verder oopwoel. Toe hy ’n naakte glasflessie tussen hulle neersit
en die papier frommel, frons sy. “Heuning?”
“Ja. Maar nie sommer enige heuning nie. Dis dól heuning.”
Hy glimlag, skuif nader, sodat sy die haartjies op sy wange sien gloei.
“Ek het dit in Japan gekoop, maar dit kom oorspronklik uit Nepal. Uit die voetheuwels van die Himalaja.”
 
Sy trek haar mond skepties. “Wat is so dol daaraan?” Sy laat sak haar kop na die botteltjie.
Die inhoud is donkerder as die heuning waaraan sy gewoond is. In die lig van die vlamme het dit ’n dieprooi gloed, die kleur van die herfs.
“Dit word deur reusebye gemaak. Hulle bou hul neste teen die hoogste kranse. Die heuningverkoper in Tokio het vir my foto’s gewys.
Dis sulke halfronde korwe, soos vlieënde pierings wat in die rots vasgevlieg het. Inwoners van die hoogste dorpies oes die heuning –
hulle vleg bamboeslere van honderde meter lank. Hulle klim daarteen op, brand groen blare, rook die bye uit …”
 
Markof is nou ook terug by sy tafeltjie; die twee Russe begin kibbel. Die restauranteienaar gee hulle ’n kyk. Stilte daal weer neer.
“Die mans wat teen die lere opklim,” gaan Andrew voort, “waag hul lewe bo die afgronde.
Hulle het wel ’n mistieke soort verstandhouding met die bye, word selde gesteek.”
“Maar hoekom ‘dol’?” vra sy weer. Sy raak aan die koel glas van die fles, streel met die agterkant van haar vingers oor Andrew se kneukels.
“Wel, in die regte seisoen versamel die bye stuifmeel van die giftige bergroos. En daardie heuning … hiérdie heuning …”
– hy tik met ’n vinger op die flessie se deksel – “is psigoaktief. Hallusinogeen. Half giftig, half hemels.”
 
Ellen voel haar hartklop versnel. Sy dink aan Markof se visserige asem.
Andrew neem haar aan die hand, die botteltjie en ’n teelepel in sy ander hand. Hulle staan op, stap uit op ’n klein balkon.
Andrew maak die deur agter hulle toe. Dis ysig; haar wange en lippe voel binne ’n halfminuut soos rubber. Die balkon hang oor die water.
Links van hulle is die strukture van die ou walvisstasie, voor hulle en onder hulle net die blouswart see.
 
Andrew draai die dekseltjie oop, hou die flessie onder Ellen se neus. Die heuning het ’n sterk, amper bekende geur. Soos gebrande brood.
Of suiker wat oor ’n oop vlam smelt. Botone van gemmer en naeltjies. Hy dompel die lepel, voer haar daarvan, dan homself.
Dis dunner as die heuning wat sy ken,dalk weens die hitte van die vuur daar binne. Sy voel die warmte deur haar bors versprei soos sy die soetigheid sluk.
Hulle draai albei terug na die wye see. Sy kan nou maar vries hier bo die koue water, dink sy. Solank dit saam met Andrew is,
solank haar keel bly brand van hierdie soete vreemdheid.
 
Die deur agter hulle gaan oop. Die gids. Hulle is weer op pad.
Ellen kyk na Andrew. Sy oë lyk nie normaal nie. Hulle beweeg in sy gesig.
Hulle glimlag albei breed, onbeheerbaar. Haar vingerpunte tintel, en haar tepels.
_________________________________________________________________________________________________
 
The Spiral house          
 
by SJ Naude
 
 
 
 
_________________________________________________________________________________________________