Avontuurlustig, militant en verwikkeld, dít is Vier Susters

This entry was posted on 28 April 2021.

Ná die sukses van Die laksman se dogter, kan aanhangers nou uitsien na Gerda Taljaard se nuwe roman, Vier Susters. The Penguin Post het haar ’n paar vrae gevra.

 

PP: Die susters het almal uiteenlopende persoonlikhede. Het jy ’n gunsteling?

GT: Ek het nie 'n gunsteling nie, nee. Elkeen van hulle het iets waarvan ek hou, en waarvan ek nie hou nie. Ek het hulle gebaseer op my ouma en haar susters. Sy het hulle altyd so op haar krom vingers afgetel en 'n storie oor elkeen vertel: Kattie, Pieta, Ousus en Griet. Hulle lewe, maar ook hulle dood, was aangrypend.

 

PP: Wat dink jy is die rol van die vrou in die hedendaagse samelewing? Het dit verander oor die jare?

GT: Die Anglo-Boereoorlog het Afrikanervroue bevry van hulle ingeperkte rolle van moeder en eggenote deurdat hulle die mas moes opkom toe die mans weg is oorlog toe, en natuurlik in die kampe waar hulle deur vindingrykheid moes oorleef. In my familie was die vroue nog altyd die sterkeres: dis die mans wat swak was, wat hulle aan drank vergryp het, vroeg dood is, of die gesin versaak het.

 

“Vroue se rol het verander, ja. Ons is beslis nie meer slagoffers nie.”

 

GT: Ek dink dis die geval met meeste vroue van alle bevolkingsgroepe - hulle mag onderdruk word, maar dis hulle wat uiteindelik terugslae oorleef en dan alleen die pot aan die kook hou. In baie gemeenskappe het vroue se omstandighede verbeter, maar in ander is dit steeds haglik. Vroue se rol het verander, ja. Ons is beslis nie meer slagoffers nie.

 

PP: Daar is wonderlike voorbeelde van plaas- én historiese romans in Afrikaans. Watter een sal jy sê is jou gunsteling of het die skryf van hierdie roman beïnvloed?

GT: Ingrid Winterbach se Niggie is sonder twyfel 'n gunsteling. Sonja Loots se Sirkusboere ook. Maar ek dink dis eerder Anna M. Louw se Die onverdeelde uur en van haar kortverhale wat Vier susters beïnvloed het.

 

PP: Beskou jy Vier susters ook as ’n politieke roman?

GT: Kry 'n mens iets soos 'n "politieke roman"? Historiese romans lewer altyd politieke kommentaar deur die verlede op die hede van toepassing te maak, dus is daar beslis politieke elemente hier teenwoordig. Die Boereoorlog sou noodwendig aanleiding gee tot Afrikanernasionalisme, en Afrikanernasionalisme sou noodwendig aanleiding gee tot apartheid, en apartheid tot opstand, en opstand tot bevryding en ongelukkig ook tot ontnugtering.

 

OOR DIE SKRYWER

Gerda Taljaard is die skrywer van die romans ’n Engel in die hoenderhok, Kelder en Die laksman se dogter asook die kortverhaalbundel Maansiek. Haar gedigte en kortverhale verskyn in verskeie publikasies en sy is met die Litera- en De Compagnie-prys vir beste kortverhaal bekroon. Die laksman se dogter het ook ’n kykNET-Rapport-prys gewen. Sy woon in Pretoria en werk as akademikus.

 

_________________________________________________________________________________________________________________________________________

 
 
deur Gerda Taljaard
 
 
_________________________________________________________________________________________________________________________________________
 

VOOR JY GAAN…

U kan ook One Minute With Gerda Taljaard geniet in Uitgawe 09 van The Penguin Post.

Facebook  Twitter