Boererate | Riaan Cruywagen se indrukke

This entry was posted on 12 May 2015.
Ek het oom Danie Smuts as uitsaaikollega goed geken.  Toe sy Boererate in 1989 die eerste keer verskyn het, was ek een van die boekwurms wat dit dadelik met groot geesdrif opgeraap en verslind het.  Ek is verheug dat dié stukkie kosbare kultuurgoed nou heruitgegee word, want dit is van belang vir die versamelaars van Africana wat die vorige uitgawes misgeloop het.  Bowendien is dit heerlike en insiggewende leesstof, want dit gee mens ’n kykie in die gebruike van toeka se dae.  
 
Verreweg die meeste boererate het ontstaan lank voor die koms van moderne geneesmiddels soos chemiese pynstillers en antibiotika, en is van geslag tot geslag oorgedra.  Ek is een van diegene wat verkies om my heil by die moderne geneeskunde te soek, maar ek kan my goed voorstel dat ’n mens by gebrek daaraan nie sal skroom om boererate vir die verligting van jou pyn of siektetoestand op die proef te stel nie.  Die oumense het na aan die aarde geleef, talle dinge beproef en die goeie behou, selfs al was dit soms gewaande doeltreffendheid.  Hulle het geweet van volkskooigoed, bokbossie, paregorie, wonderkroon, kalkoenbos, rooilaventel, helmontskrui, witdulsies en ’n magdom ander bestanddele van rate vir elke denkbare skeet.  Ek twyfel nie daaraan dat talle boererate effektief is nie, maar om byvoorbeeld twee neute in ’n doekie toe te bind, dit binne jou klere vas te speld en te verwag dat dit pyn sal verlig, lyk vir my ’n bietjie dik vir ’n daalder!  Die ongeloofwaardigheid van sommige boererate doen egter hoegenaamd geen afbreuk aan die leesgenot van die boek nie.  Ek dink ek laat liewer ’n tand trek as om ’n bietjie kruit met skoorsteenroet en knoffel te meng, dit “in die hol tand” te sit en ’n spaansvlieg agter elke oor te plaas omdat dit kwansuis korte mette met tandpyn sal maak!  
 
’n Bykomende vreugde van die heruitgawe van Boererate is dat dit min of meer saamval met die 90ste verjaarsdagviering van Afrikaans as amptelike landstaal.  Die kultuurhistoriese waarde van Boererate voer die gedagtes onwillekeurig terug na 1891 toe Di Suid Afrikaanse Kook-, Koek- en Resepte Boek van mejuvr. E.J. Dijkman verskyn het, ook met ’n hele aantal boererate daarby ingesluit.  Danie Smuts se Boererate bevat weliswaar ’n klompie wenke wat luisteraars aan mej. Dijkman se boek ontleen het, maar dit voeg net ekstra waarde toe tot die besonder genoeglike leeservaring.  Boererate hoort op die rak van elkeen wat belangstel in ons Afrikaanse kultuurerfenis en ’n liefde vir ons taal koester.
 
Bestel jou Boererate hier:
 
Recommended Retail PriceR250.00
ISBN: 9780143539216
Format: Hardback
Published: February 2015
As jong seun het Danie Smuts met ’n blikkie agter vee in die veld aangeloop om kuttels te versamel vir ’n konkoksie om maselspasiënte se simptome te verlig. Min het hy toe geweet dat hy eendag die legendariese aanbieder...

 

Facebook  Twitter