Ons raadpleeg Koos Kombuis se i-Tjieng oor e-tolhekke, stakings en die simboliek agter “Huisie by die See”

This entry was posted on 01 October 2013.
Die I Ching, of “Boek van veranderings”, word al vir meer as 21 eeue in die Ooste gebruik, en is sedert die 19de eeu tot vandag toe ook in die Weste 'n wyd geraadpleegde bron. In Koos Kombuis se i-Tjieng praat hierdie wysheid jou taal: ligvoets en humoristies, maar doodernstig oor die feit dat baie mense vandag verlore voel en blindweg tas na ’n pad. Dit is jou “GPS vir verdwaalde siele”.
 
Wat sal die i-Tjieng antwoord as jy dit sou raadpleeg oor die diepere betekenis of geheime boodskappe van die volgende Koos Kombuis-liedjies?
 
Koos se eerste reaksie: Ek het nog nooit voorheen daaraan gedink om hierdie soort vrae oor my eie liedjies te stel nie, maar kom ons kyk wat gebeur! Ek sal nie die hele uitleg verskaf nie, dit sou te lank wees, maar kom ons kyk of daar frases is wat uitstaan?
 
Lisa se Klavier
“Armoede is nie ’n skande nie. Maak staat op geestelike rykdom waar wêreldse skatte ontbreek (Markus 12:41-44, Prediker 3:6).” 
 
Dit sou vir niemand anders sinmaak nie, maar wel vir my, want “Lisa se Klavier” is gebaseer op ‘n rympie wat ek destyds onder my vriendin Lisa se woonsteldeur ingedruk het omdat ek gehoop het sy sal die volgende dag vir my geld leen… Ek skuld haar tot vandag toe daardie R40!
 
Johnny is nie Dood nie
“Moenie drink en bestuur nie.” 
 
Johnny is tragies dood in ‘n motorongeluk toe hy bestuur het onder die invloed van dwelmmiddels. Vir die i-Tjieng gaan dit nie oor die liedjie nie, maar ooit die feit dat Johnny se dood vermy kon gewees het. 
 
Huisie by die See
“Jy is eerlik en toegewyd. Mense staan tou om vir jou te werk. Jy deel jou sukses en rykdom met die hele wêreld. Bill Gates is jou rolmodel.” 
 
Aanvanklik het hierdie uitleg vir my geen sin gemaak nie, totdat ek besef het wat ‘n ‘huisie by die see’ vir my simboliseer: dis die ultimate suksessimbool. Om ‘n spreekwoordelike huisie by die see te hê, beteken nie noodwendig jy woon op die beach front in Jeffreysbaai nie, dit kan wel beteken dat jy die situasie in jou lewe bereik het waarna jy gestreef het en waarvoor jy gewerk het. 
 
Onder in my Whiskeyglas
 “Daar is geen lig nie, slegs duisternis. Hy het die hemel bereik, maar sy toekoms lê in die dieptes van die aarde.” 
 
Dit gaan hier oor die weeklag van iemand wat die verkeerde keuses gemaak het in die liefde en nou die verlies van sy ideale betreur. ‘n Groter hartseer kan mens jou kwalik verbeel!
 
As ‘n mens kyk na kontroversiële kwessies soos die onlangse Miley Cyrus-debakel of plaaslike kwelvrae rondom e-tolhekke of stakings, sal ‘n mens die i-Tjieng kan raadpleeg om ‘n mate van perspektief te verkry? 
 
Miley Cyrus
 
Wat die Miley Cyrus-debakel betref, nou ja, ek het self dikwels oor hierdie ding nagedink, en kan nie besluit hoe ek daaroor voel nie. Is dit ‘n geval van ‘n celebrity wat te vinnig haar openbare beeld wou wysig? Was sy bloot moedswillig en immoreel? Waarom word sy geblameer vir dinge wat soveel ander performers die hele tyd doen? 
 
Die i-Tjieng fokus egter eerder op die persoonlike aspek van die saak as op haar openbare beeld: “Hy gaan voort, net om groter probleme teë te kom. Hy gaan staan stil en keer dan eerder terug na sy familie toe.” [Let wel, in hierdie geval kan mens natuurlik “sy” lees pleks van “hy”].
 
Met ander woorde, die eintlike skade wat gedoen is, is in die area van interpersoonlike verhoudinge, spesifiek in terme van haar gesin. Maar dit lyk asof daar hoop is vir versoening… 
 
e-Tolhekke
 
 “Gekke is in beheer. Hulle is uiterlik sterk, maar innerlik swak. Bly weg, onttrek, moenie deel word hiervan nie.” 
 
Soms kry ek die gevoel die i-Tjieng is nie mal oor die huidige Suid-Afrikaanse regering nie… Aan die ander kant, dit kan natuurlik wees dat hy glad nie oor hierdie soort politiekery wil betrokke raak nie. Met ander woorde, “bly weg van hierdie vraag”. NS: Ek wonder wat sou iemand van SANRAL kry as hy hierdie selfde vraag sou stel?
 
Stakings
 
Dis natuurlik ‘n komplekse saak waarop mens meer as een perspektief kan he. Die antwoord wat ek op hierdie vraag gekry het, is nie eenvoudig nie, en fokus op verskeie fasette van die saak. Dit lyk asof die i-Tjieng veral ‘n probleem het met geweld en intimidasie. “Met brute krag optree, sonder enige agting vir reg en geregtigheid.” Gaan koop gerus jou eie eksemplaar van die boek en raadpleeg Hoofstukke 34 en 52, of vra jou eie vraag in jou eie bewoording. 
 
Kan die i-Tjieng ‘n uitgewer help om te besluit of ‘n boek sal verkoop of nie? Is daar ‘n manier hoe ons en ook ander uitgewers moontlik die i-Tjieng kan gebruik om goeie besigheidsbesluite te maak (of moontlik selfs te weet of ‘n boek ‘n topverkoper gaan wees)?  
 
Ons het met die aanvang van ons werk aan hierdie manuskrip dieselfde vraag gestel. Die boek was toe nog ‘n teks waaraan ons gewerk het in opdrag van ‘n kleiner uitgewery, wie later nie meer in staat was om voort te gaan met die projek nie. Die antwoord wat ons gekry het, het daarop gedui dat daar nog ‘n lang proses voorgele het. Ook het die i-Tjieng vir ons Hoofstuk 21 uitgegooi, wat te doen het met hofsake. Na aanleiding hiervan het ons navorsing gaan doen oor kopiereg, en besef dat, indien ons ons verwerking op die Wilhelm-vertaling sou baseer, ons ‘n wet sou oortree en onsself sou oopstel vir aantygings van plagiaat. Dus het ons die Legge-vertaling begin gebruik, wat wel in die openbare domein is. 
 
Ek het die i-Tjieng meer as een keer gevra om ‘n antwoord te gee op hierdie vraag in die algemeen, en geen sinvolle uitleg gekry nie. Ek vermoed die rede hiervoor is omdat elkeen wat besigheidsadvies van die i-Tjieng wil hê, dit self moet doen. Elke enkele besigheidsituasie is uniek, en dis vir die i-Tjieng onmoontlik om op iets te antwoord wat so vaag is. Dis natuurlik ook ‘n bietjie weird om te vra: “Gaan hierdie produk verkoop?” Want dan vervlak jy die proses tot blote fortuinvertellery. Daar is soveel meer dinge wat belangrik is by die publikasie van ‘n boek; somnmige boeke MOET eenvoudig verskyn, al verander hulle slegs ‘n handjievol mense se lewens! Ek weet dis dalk nie wat ‘n uitgewer wil hoor nie, maar dis ongelukkig waar…
 
Die i-Tjieng is ‘n wonderlike leermeester en ‘n groot hulp, maar op die ou end is dit eenvoudig so: in hierdie lewe is daar geen short cuts nie. Jy moet nog steeds deur elke probleem lewe en leer, en enige hulp wat die i-Tjieng kan gee, gaan jou nie toelaat om enige stap te skip in jou persoonlike groeiproses nie! 
 
______________________________________________________________________________________________________________
 
Koop i-Tjieng deur Koos Kombuis
 
 

 

Facebook  Twitter