Resepte: AleitApteit deur Aleit Swanepoel

This entry was posted on 12 January 2023.

AleitApteit  is ’n boek gevul met stories van die geliefde Aleit Swanepoel. Kom reis en kook saam met hom met ongeveer 50 resepte uit sy pen. AleitApteit  is ’n hoofstuk van sy nalatenskap en ’n manier waarop hy vir altyd in mense se hart, kombuis en lewe kan voortleef. Dit is ’n pragkookboek, maar ook een wat deel van jou kombuis se bestanddele moet uitmaak – gevul met bekende hartskos en bypassende stories geskryf deur ’n legende.

 


 

INDEKS

Hoender-nachos

Lanie se lensies

Gebakte beet met wortels en amandels

Winterslaai

Lani se korslose souttert

Ma Cliffie se Durbankerrie

Aleit se Cape Malay-lynvis

Ma Cliffie se soetpatats

Aleit se beesstert

Aleit se waterblommetjiebredie

Elmarie se suurlemoen-en-witsjokolade-koekstruif

 

Hoender-nachos

 

Porsies: 4–6

 

2 pakke (125 g elk) Doritos-skyfies (die sweet chilli-geur in die blou pak)

1 bottel Woolies-salsasous of enige ander chunky salsasous

240 g chunky maaskaas

500 g gesnipperde gaar hoender

250 g cheddarkaas

250 g mozzarellakaas

1 groot avokado, fyngemaak

suurroom vir voorsit

 

Pak ’n laag Doritos in ’n bak.

Sprinkel die helfte van die salsa en die helfte van die maaskaas 
eweredig oor.

Sprinkel die hoenderstukkies oor.

Pak weer ’n laag Doritos.

Sprinkel die ander helfte van die salsa, maaskaas en hoender oor.

Gooi ’n dun lagie Doritos bo-oor.

Sprinkel cheddar- en mozzarellakaas bo-oor.

Sit dit in die oond vir ongeveer 7 minute onder die roosterelement tot die 
kaas net smelt.

Sit voor met avokado en suurrroom bo-op of langs die kant.


Lanie se lensies

 

Porsies: 8–10

 

1 k bruinlensies

3 k water knippie sout

gerasperdie skil en sap van 1 suurlemoen

200 g chorizo, gesny (Ricomondo is die beste)

1 pakkie (200 g) ontpitte olywe (groen of swart)

1 t gekapte vars roosmaryn

1 knoffelhuisie, fyngekap

100 g fetakaas

’n paar gekapte agurkies 1 e gekapte pikantrissie (peppedews)

2 klein radyse

1 pakkie (125 g) basiliekruid-pesto (Ina Paarman s’n)

1 e gemengde sade en neute, gerooster

cos-blaarslaai (opsioneel)

 

Kook die lensies in die water met sout tot sag, dog ferm.

Dreineer en voeg die suurlemoensap en -skil by.

Braai die chorizo-stukkies in ’n pan.

Meng al die bestanddele saam en roer deur.

Sit die lensies voor op ’n cos-blaarslaaiblaar indien jy verkies.

 


Gebakte beet met wortels en amandels

 

Porsies: 4–6

 

500 g wortels

500 g beet

growwe swartpeper

4 e olyfolie

1 e heuning

1 e balsamiese asyn

50 g amandelvlokkies

½ bossie pietersielie, gekap sout

vars pietersielie en olyfolie vir voorsit

 

Voorverhit die oond tot 200 °C.

Skil die wortels en beet en sny in skywe.

Plaas in ’n oondbak en sprinkel peper en olyfolie oor.

Drup heuning en balsamiese asyn oor.

Bak vir 45–50 minute.

Roer die groente versigtig in die bak en sprinkel die amandels oor.

Bak vir nog 5 minute.

Geur met sout na smaak en sprinkel vars gekapte pietersielie en olyfolie oor.

 


Winterslaai

 

Porsies: 6–8

 

SLAAI

1 pak (500 g) botterskorsie- blokkies

1 pak (100 g) 100 g gemengde slaaiblare (soos roket, bronkors en spinasie)

125 g gaar beet, kleiner gesny

1 groot avokado, kleiner gesny

100 g Chevin-kaas, in stukke gebreek

gemengde sade en neute

 

Kook die botterskorsie in die mikrogolf volgens die aanwysings op die pakkie. Laat effe afkoel.

Pak die slaaiblare op ’n opdienbord.

Pak die botterskorsie bo-op, die beet en dan die avokadostukke.

Om af te rond, strooi die kaas bo-oor en strooi die sade en neute oor.

Gooi die slaaisous oor net voor bediening.

 

SLAAISOUS

2 knoffeltoontjies

¼ rooi-ui, fyngekap

growwe swartpeper

3 e fyngemaalde koljander

3 el fyngekapte ment

2 e heuning

2 e balsamiese asyn

1 e bruinsuiker

½ k olyfolie

 

Maak die knoffel, rooi-ui, kruie, heuning, balsamiese asyn en suiker met ’n stamper en vysel fyn tot die suiker opgelos het.

Voeg olyfolie stadig by en meng tot dit loperig is.

 


Lani se korslose souttert

 

Porsies: 6–8

 

olie vir braai

2 uie, gekap

1 pak (200 g) spek, gesny

1 blikkie (390 g) Viennas (Weense worsies), kleiner gesny

4 snye brood

sout en peper

2 k kokende melk

1 k gerasperde cheddarkaas

3 eiers, geklits

 

1 Voorverhit die oond tot 200 °C.

2 Verhit die olie in ’n pan en braai die uie, spek en worsies.

3 Sny die broodkorsies af en sny die brood in blokkies. Pak die broodblokkies

in ’n gesmeerde oondbak.

4 Voeg sout en peper by die kokende melk en gooi oor die broodblokkies.

5 Strooi die kaas oor en voeg die eiers by.

6 Voeg die uie-en-vleismengsel by en meng goed.

 

7 Bak vir 25 minute tot goudbruin.

 


Ma Cliffie se Durbankerrie

 

Porsies: 6

 

3 uie

olie vir braai

½ knoffelbol, gerasper

1 e gerasperde gemmer

1 heel hoender

olyfolie vir smeer

1 e hoenderspeserye

laventel- of kruisementtakkies (opsioneel)

2 beesstertblokkies

1 e paprika

1 e masala

1½ e Rajah “Mild & Spicy”- kerriepoeier (bruin boksie)

1 e Rajah “Hot”-kerriepoeier (oranje boksie)

2 blikke (410 g elk) Indian tomato

1 pakkie (50 g) tamatiepasta

2 blikke (410 g elk) botterbone

10 kardemomsade

 

Sny 2 uie in dun skywe.

Verhit die olie in ’n pan en braai die uie. Wanneer die uie deurskynend raak, voeg die knoffel en gemmer by en hou dit eenkant tot later.

Sny die oorblywende ui in kwarte en druk dit agter by die hoender in. Vryf die hoender aan die binne- en buitekant met olyfolie en vryf die hoenderspeserye egalig oor.

Speel gerus rond met laventel of kruisement en plaas dit saam met die uie binne-in die hoenderholte.

Sit die hoender in ’n oondbak met die deksel op en bak teen 180 °C. Ná n halfuur, haal jy die hoender uit en draai dit om.

Gooi weer hoenderspeserye op die kant van die hoender wat nou bo lê en sit dit terug in die oond vir nog ’n halfuur teen 180 °C.

Sit die oond op grill, maak seker dat albei kante van die hoender mooi bros bruin gerooster is. (Nou kan jy eintlik die hoender as hoofgereg in sy eie reg bedien, maar die proses van kerriemaak gaan aan …)

Indien daar genoeg tyd is, laat die hoender afkoel tot kamertemperatuur, hoewel ek gewoonlik ’n bietjie gejaagd is. Ek sit sommer die hoender in die vrieskas vir ’n halfuur, haal dit dan uit en ontbeen dit. (Moet onder geen omstandigehede die gebraaide velletjies uithaal nie.)

Nou plaas jy die hoender saam met die beestertblokkies (opgelos in ’n bietjie kookwater), paprika, masala, kerriepoeier en uiemengsel in ’n groot pan.

Voeg die Indian tomato en die tamatiepasta by en laat dit vir so 10 minute saggies prut. Voeg dan die botterbone by.

Laat kook vir ongeveer 5 minute en dan draai jy die plaat so laag as moontlik en laat dit vir 15 minute saggies prut.

Die geheime bestanddeel van hierdie dis is die kardemonsade. Dit is baie belangrik om dit eers aan die einde by te voeg (wanneer dit reeds kookpunt bereik het en die kerrie nou saggies prut). Plaas die sade op ’n broodbord en druk dit stukkend met die agterkant van ’n teelepel en voeg dan by.

 

WENK

Jy kan ook Raja Flavourful & Mild-kerriepoeier (pers boksie) in plaas van Mild & Spicy gebruik. Bedien met basmatirys en byvoegings – gesnyde piesang met Bulgaarse jogurt, klapper en blatjang. Ek hou daarvan om ook droë fyn rooirissie in die middel van die tafel te plaas.

 


Aleit se Cape Malay-lynvis

op patat- en botterskorsieskywe

 

Porsies: 4

 

4 x 200 g-porsies geelstert, Cape salmon of ander lynvis

okkerneute, gekap

pietersielie, gekap

gerasperde skil van 3 suurlemoene

sout en peper

 

Voorverhit die oond tot 200 °C.

Pak die visfilette op ’n bakplaat.

Meng die die okkerneute, pietersielie en suurlemoenskil en sprinkel die mengsel bo-oor die vis.

Bak vir 10–12 minute.

 

BOTTERSKORSIES EN PATATS

1 botterskorsie

1 patat

olyfolie

fyn kaneel

heuning

 

Stel die oond laer tot 180 °C.

Skil en sny die botterskorsie en patat in sirkels ongeveer 1 cm dik.

Sprinkel met olyfolie.

Ek hou daarvan om ’n klein bietjie kaneel by te voeg. En heuning is natuurlik die X-bestanddeel wanneer jy die duo van ronde groentesirkels gaarmaak.

Bak vir ongeveer 40 minute.

Pak die botterskorsie- en patatskywe op ’n opdienbord en plaas die vis bo-op.

 

KERRIE-MAYO-SOUS

50 g botter

1 e kerriepoeier

½ k mayonnaise

50 ml room

 

Smelt die bottter tot dit ’n bruinerige skynsel kry.

Terwyl dit verhit word, voeg die kerriepoeier by.

Roer nou mayonnaise by.

Voeg die room by.

Skep die sous in ’n bakkie en sit voor saam met die vis.

 


Ma Cliffie se soetpatats

 

Porsies: 2–4

 

pakkies (500 g elk) gesnyde patat

gemmerkoekies, fyngedruk

½ k bruinsuiker

e botter

kaneelstokkies vir garnering

 

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Maak die patat gaar in die mikrogolf. Sny die een hoekie af – ongeveer 5 minute per pakkie op hoog.

Meng die koekies en suiker saam.

Pak eers ’n lagie patat in ’n oondbak.

Strooi die gemmerkoekies en suikermengsel bo-oor die patatlagie.

Herhaal die proses vier keer.

Sit klontjies botter bo-op en bak vir 10 minute.

Gebruik die grill-funksie aan die einde sodat dit bo-op lekker bros word.

 

 

 


Aleit se beesstert

 

"Seker een van my gunstelingdisse, selfs eks-Mej Wêreld 2014, Rolene Strauss, is so mal oor beesstert dat dit as hoofgereg by haar troue voorgesit is. Natuurlik het die Aleit Groep hierdie glansgeleendheid beplan en tot volmaking gebring."

 

Porsies: 8–10

 

Bietjie koekmeel

BBQ-speserye

1 kg beesstertstukke

olyfolie vir braai

2 blokkies beesaftreksel, opgelos in 2 k water

2 k rooiwyn

8 klein uie

8 baba-aartappels, met skil

3 wortels, geskil en kleiner gesny

1 piesang, in ringe gesny

1 blik (400 g) heel geskilde tamaties

1½ k blatjang

2 e vars tiemie

hele takkie seldery, kleiner

geknip

growwe swartpeper, witpeper en sout

 

Rol die beesstert in ’n bietjie meel en BBQ-speserye na smaak.

Verhit die olyfolie in ’n lekker groot pan en sear die beesstert tot goed bruin.

Dan gebruik ek my stoompot en sit die beesstert daarin.

Voeg 2 blokkies aftreksel by en enige rooiwyn wat byderhand is.

Laat toe dat die pot seël – gewoonlik sal so 4 sessies van 20 minute die vleis sag maak.

Voeg gerus die uie, aartappels, wortels, piesang, tamaties en blatjang by die vleis halfpad gedurende die kookproses (so ná die tweede sessies van 20 minute).

Voeg die tiemie, seldery, swartpeper, witpeper en sout by, of jy kan dit ook van die begin af byvoeg, saam met die eerste kooksessie.

 

WENK

Sit voor met rys en uieslaai. My uieslaai bestaan uit fyngekapte rosa-tamaties (of enige ander tamatie), rooi-uie (of wit), met fyngekapte vars koljander, afgerond met witasyn. Garneer met ’n takkie vars roosmaryn.

 


Aleit se waterblommetjiebredie

 

Porsies: 8

 

3 pakkies (750 g) waterblommetjies

olyfolie vir braai

3 uie, fyngekap

2 knoffelhuisies heel

1 t gerasperde vars gemmer

1 kg lamsnek (of lamstjops)

2 hoenderblokkies, opgelos in 2 k water

3 aartappels geskil en gesny in kwarte

2 wortels, geskil en kleiner gesny

30 ml suurlemoensap en 2 e gerasperde skil (of surings uit jou wintertuin)

1 t witasyn

knippie witpeper

 

Week die waterblommetjies in soutwater vir so 20 minute (drink solank ’n glas wyn!)

Verhit die olyfolie. (Ek neem gewoonlik my twee grootste panne in die huis.)

Voeg die uie by. Wanneer die uie deurskynend raak, voeg die knoffel en gemmer by. Hou dit eenkant.

Sear die vleis, hetsy of lamsnek of -tjops in vuurwarm olyfolie.

Wanneer dit bruin aan albei kante is, is dit reg vir die stoompot.

Sit die lam in die stoompot en voeg die hoenderaftreksel by.

Laat toe dat die pot seël. Gewoonlik sal so 3 sessies van 20 minute die vleis sag maak.

Ná die eerste 20 minute, voeg die aartappels en wortels by.

Wanneer die vleis amper sag is (so ná die tweede sessies van 20 minute), voeg jy die geweekte waterblommetjies en die uiemengsel by.

Voeg so ’n klein bietjie asyn en sommer nog ’n bietjie wit peper by (dit verseker die magic!)

Kook vir nog 20 minute in die stoompot en jou bredie is gaar.

 

WENK

Jy kan die waterblommetjiebredie met basmatirys voorsit.

 


Elmarie se suurlemoen-en-witsjokolade-koekstruif

 

Porsies: 8–10

 

2 k vars room

2 x 500 g suurlemoensmeer (lemon curd)

1 pak Boudoir-koekies

80 g-plak witsjokolade

 

Klop die room in ’n mengbak tot styf.

Vou die suurlemoensmeer by die room in.

Rasper die sjokolade.

Pak nou lae van die roommengsel, koekies en sjokolade.

Los oornag in die yskas om te stol.

 

ITALIAANSE MERINGUE-BOLAAG (opsioneel)

2 k suiker

½ k water

eiers, geskei

t asyn

 

Smelt die suiker en water en bring tot kookpunt.

Klits die eierwitte tot sage punte vorm en voeg die asyn by.

Voeg die suikerstroop stadig by die eierwitte terwyl jy klits.

Skep bo-op die koekstruif en verbruin effe met ’n blaasvlam.

 

WENK

Jy kan ook die Italiaanse meringue-bolaag met styfgeklitste room vervang. Die resep kan maklik gehalveer word.

 

Resep uit AleitAptyt deur Aleit Swanepoel, nou beskikbaar

 

 
 
 
 

 

U KAN OOK GENIET

Resep: Kosbaar deur Elmarie Berry

 


 

 

Facebook  Twitter