Senior Afrikaanse redakteur by Penguin

This entry was posted on 16 January 2014.
Penguin Books Suid-Afrika kondig die aanstelling van Melt Myburgh as opdraggewende redakteur aan.
 
Myburgh het op verskeie terreine reeds diep spore in die Afrikaanse letterkundige wêreld getrap. Hy kom na Penguin van Naledi-Uitgewers waar hy redaksiehoof was. Voorheen was hy verbonde aan die Universiteit Stellenbosch waar hy projekbestuurder van die Woordfees was en in die departement Afrikaans en Nederlands gedoseer het.  Sy ervaring in die boekewêreld het beslag gekry toe hy van 2007 tot 2010 meningsbestuurder by LitNet was.
 
Myburgh is ook ‘n bekroonde digter. In 2011 het hy die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel Oewerbestaan ontvang.
 
Myburgh, wat op 2 Januarie begin het, rapporteer aan die direkteur vir uitgewery, Frederik de Jager.
 
De Jager sê: “Ek is opgewonde dat iemand van Melt se statuur in die Afrikaanse boekewêreld en ‘n man met sy talente hom by ons span kon aansluit. Hierdie aanstelling bevestig ons doel om ernstig in die Afrikaanse mark betrokke te raak, ‘n betrokkenheid wat reeds begin het met die kontraktering van skrywers soos Chris Barnard, Koos Kombuis, Karin Brynard, Tinus Horn en Zirk van den Berg, van wie die laaste drie almal boeke in 2014 by Penguin laat verskyn.”
Melt Myburgh sê: “Dit is opwindend om deel te word van ‘n uitgewershuis wat sy wortels regoor die wêreld geanker het. Om Penguin se betrokkenheid by Afrikaans te help uitbrei, is ‘n werklik ‘n enorme voorreg.”
 
Vir navrae skryf aan Myburgh by melt.myburgh@za.penguingroup.com.
 
 

Facebook  Twitter