Uittreksel - Brandmerk deur Christelle van Rooyen-Wessels

This entry was posted on 18 January 2021.
Hy het gister weer ’n trial run gehad, maar dit was op die ou einde nie eintlik veel van ’n uitdaging nie. Sy was net dáár, langs die pad, en hy het stilgehou.
“Waarheen gaan jy?”
Die meisie het met haar kop beduie dat sy in dieselfde rigting as hy op pad was.
“Klim in, jy kan sê waar ek moet stop.”
Die meisie, hy’t haar omtrent sewe jaar oud geskat, het dankbaar geglimlag en voor in die bakkie langs hom geklouter. Sowat ’n kilo¬meter verder het sy die eerste keer gepraat en gesê dat hy haar maar kan aflaai, hiér is waar sy bly.
Die bordjie by die hek het gesê dat die plaas se naam Iowa is. In plaas van stilhou, het hy versnel. Hy was vaagweg bewus van die kind se geteem hier langs hom, maar dit was eers toe sy hom met haar vuiste toetakel dat hy haar kop twee maal hard met die paneelbord laat kennis maak het.
Die res van die rit was sy stil.
Toe sy later haar bewussyn herwin, was sy reeds met die kettings vas wat hy in die verlate plaashuis se agterste slaapkamer kom aan¬bring het. Sy het nie eens ’n poging aangewend om te spartel nie. Haar gelatenheid het hom tot geweld gedryf waartoe hyself nie eens geweet het hy in staat is nie.
Maar dit het hom byna geen plesier verskaf nie. 
Nadat hy hom later in die koue water van ’n kraan in een van die stalle geskrop het, het hy ’n ruk so naak gestaan, sy gemoed selfs kaler gestroop.
Hy het versigtig oor die vars brandmerk net onder sy heupbeen gevoel. Nie eens dít het vandag die gewenste uitwerking gehad nie.
Hy het háár nodig. Om weer lewend te voel. Net sy sal dié leeg¬heid kan vul.
Hy het bakkie toe geloop, skaars gekyk na die twee vullissakke waarin hy die dogtertjie – sy wou nie haar naam vir hom gee nie – se stukke gegooi het. Hy het dit nog nie baie gedoen nie – ’n lyk opgekap. Maar hy het net hierdie dwingende begeerte gehad om vernielsugtig te raak.
Hy het die skoon klere wat hy altyd in ’n sak onder sy sitplek hou uitgehaal en aangetrek. Die bebloedes het hy agter die stalle gaan verbrand en grond daaroor gegooi.
’n Paar kilometer voor die dorp, by ’n onwettige stortingsterrein, het hy in die pad stilgehou sodat hy nie sy bakkie se buitebandafdrukke in die grond los nie. Hy het vinnig uitgeklim, die twee sakke agter afgehaal en hul inhoud langs die pad uitgeskud. Daarna het hy die twee sakke in ’n ander een geprop wat hy vir dié doel met hom saamgebring het. Hy sou later daarvan ontslae raak. 
Hy het geweet dit gaan moeiliker wees om ontslae te raak van die donderwolk wat in sy kop kom saampak het.
 
Fok!
André gooi die gehoorbuis van die kantoorfoon só hard op die mikkie dat die ding hop-hop-hop en dan langs die instrument tot ruste kom.
Lisa en Evert het al aan die begin van die oproep kom nader staan. Beide kon aflei dat daar ’n nuwe verwikkeling in hul Ondier-ondersoek is.
“He’s struck again. Of, dís wat die kolonel dink. ’n Verbyganger het die oorblyfsels van ’n kind, ’n dogtertjie, by daardie dumping site op die Beesdampad gekry. Ry ons sommer gou met my bakkie?” Hy wag nie vir ’n antwoord nie, gryp sy sleutels en swets vererg toe hy dit in sy haas laat val. Die ander twee haal hom eers in die parkeerarea in.
Dit is skaars vyf kilometer na die toneel toe, maar vir al drie die speurders voel dit asof hul rit ’n ewigheid duur.
“Hoekom het die kolonel na die kind se ‘oorblyfsels’ verwys?” verbreek Evert die tasbare stilte.
“Dalk het hy ‘oorskot’ bedoel,” bied André ’n verduideliking aan. 
 “Maybe he cut her up,” merk Lisa op.
André skud sy kop. “Ek glo nie. Dis nie ons ou se MO nie.”
Sewe minute later sluk hy sy woorde, saam met die bitter inhoud van sy maag wat in sy keel opgestoot het.
“Wat de …? Dit kan mos nie ’n mens wees wat dié gedoen het nie.”
Hy sien dat Evert en Lisa ewe bleek om die kiewe is.
“If it is our guy, he is escalating. Definitely escalating.” Lisa vryf oudergewoonte met sy plat hand oor sy kop.
“If Lisa’s right, we have kak. With a capital K.” André wonder of hy dié toneel ooit, ooit weer uit sy gedagtes sal kan kry. Hy sal nie geld daarop verwed nie.
 
“Wees maar versigtig, want jy weet nooit wat vir jou wag nie. Miskien is dit die Duiwel; miskien ’n engel, maar ek twyfel, want ek weet – hulle het lánkal van ons vergeet.”
Piet Botha se rokerige stem verwoord André se gedagtes. Hy draai die CD-speler se volume harder. Hy is nie baie bygelowig nie, maar dié saak laat hom sy begrip van realiteit in twyfel trek.
Hy gaan sit weer by sy eetkamertafel, trek die oop docket nader. Hy het afskrifte van Giovanni se verslae oor die meisies se beserings, asook van die moordtonele in elkeen van die slagoffers se lêers gesit – só kan hy maklik vergelykings maak en hy hoef nie heen en weer te soek nie.
Wat hom pla, is die algehele gebrek aan fisieke bewysstukke. Dit is asof hul moordenaar telkens die liggame uit die lug uit laat val. Geen voetspore nie, geen motorspore nie, fokkol. Hoe kry dié mens dit reg? Behalwe as dit nie ’n mens is nie.
Hy reik na die CD-speler se afstandbeheer en sit die volume hoër.
Die nuutste slagoffer is uitgeken. Bongi Rantsho. Sy was nege jaar oud, veel ouer as hul moordenaar se vorige slagoffers. Maar die kind was klein vir haar ouderdom, die Ondier kon dus dink dat sy jonger is.
Die donnerse koerant en hul bynaam vir die bliksem! Nou kan hy byna nie meer aan die verdagte dink as iets anders as die Ondier nie.
 
_________________________________________________________________________________________________
 
 
Brandmerk          
deur Christelle van Rooyen-Wessels
 
 
 
_________________________________________________________________________________________________

 

 

Facebook  Twitter