Uittreksel: Die Seepunt-insident deur Gerhard Greyvensteyn

This entry was posted on 08 July 2021.

(1)

’n Vrou lê op haar bed in ’n woonstel in Seepunt met ’n sigaret, haar foon in haar een hand. Dis 03:00 op Saterdagoggend, 1 Januarie. Sy is moeg, maar kan nie slaap nie. Sy kyk na ’n foto op Twitter. ’n Teerpad met die oseaan op regterhand en rotse links. ’n Betonmuur tussen die see en die pad. Dis nag, maar die toneel is helder verlig. Die wit strepe op die teer is duidelik sig­baar. Motors, hul kopligte skerp, het tot stilstand gekom. In die pad: stukke metaal en hout, iets wat lyk soos ’n rolstoel. En die liggaam van ’n vrou. Ledemate onnatuurlik, die een been reguit en die ander teen ’n vreemde hoek gebuig, negentig grade in die verkeerde rigting. Een arm is uitgestrek na die muur toe, die ander waarskynlik onder die liggaam ingevou. ’n Rooi rok, lang, wit hare, in kontras met die swart van die teer. Nice pic. Die vrou met die foon glimlag. Selfs die laaste foto is highly stylised, dink sy. Imelda.

Want dit is die liggaam van Imelda Grys, sakevrou, kunskenner en mil­joenêr. Wat laas nag in ’n ongeluk voor haar huis in Bantrybaai oorlede is. Die vrou het die foto gekry onder die hashtag #imeldagrys. Dis sewe minute gelede op Twitter geplaas. ’n Gedeelte van ’n ou liedjie kom skielik by haar op: “rokkies wou sy dra, maar niemand kyk daarna, en almal staan verslae oor sy die rokkies dra …” Sy wonder hoekom sy nou daaraan dink. Absurd.

(2)

Dieselfde tyd, dieselfde oggend. In ’n woonstel agthonderd meter suidwes sit ’n ander vrou by ’n tafel in haar sitkamer. Grys t-hemp met ’n New York University-embleem en los, grys kortbroek. Haar boyfriend is uit om iemand te ontmoet. Sy wonder wanneer hy gaan terugkom, en terselfdertyd wonder sy ook nie. Want dit is niks nuuts nie. Ieder geval, sy is nou wakker ná ’n ska­mele een uur se slaap. Sy het ’n koppie groentee gemaak en kyk na haar foon. Facebook. Vriende se vakansies. Vriende se honde. Katte. Kinders. Iets tref haar oog. Mail & Guardian het ’n live feed. From Bantry Bay: Tragic death of well-known art collector and philanthropist. Sy snak na haar asem. Haar hart begin vinniger klop en sy voel ’n koue sweet op haar voorkop uitslaan. Die video is vanuit die lug geneem (’n helikopter of ’n drone?) en wys ’n pad met motors wat stilstaan, rotse aan die een kant en die see aan die ander. In die pad lê iemand. ’n Vrou, te oordeel na die lang, rooi rok. Die kamera skud en verloor fokus.

Net toe lui haar foon. ’n Nommer wat sy nie herken nie. Normaalweg sou sy nie antwoord nie, maar sy dink sy weet waaroor dit gaan.

“Hallo?” sê-vra sy tentatief.

(3)

Drie kilometer wes, in ’n woonstel met ’n uitsig oor die stad, sit ’n derde vrou op haar balkon. Sy het ’n wit pashmina-serp om haar skouers gedrapeer, want al het die wind gaan lê, is dit koel. Drieuur in die oggend is die enigste tyd wat ek rus vir my siel kan kry, dink sy en giggel. Sy neem ’n sluk wodka en kap ’n dun lyntjie kokaïen op die glastafel voor haar, rol ’n honderdrand­noot dun op en snuif die poeier behendig, eers met die een neusgat en dan die ander. Skud haar kop effens, vee haar neus skoon met die rugkant van haar hand, en skink nog ’n bietjie wodka. Cheers, Kaapstad.

Haar foon pieng. WhatsApp. ’n Boodskap van ’n vriendin wat in die me­dia werk: Check out this news, met ’n skakel na ’n artikel. Sy kliek daarop en word gelei na News24 se app: Death of local celebrity.

En só verneem sy van Imelda Grys se dood. Sy sal seker vir die slapende man binne hiervan moet vertel. Shit timing. Dan lui die landlyn in die sit­kamer. En die slaapkamer. Die man antwoord die foon.

(4)

’n Vierde vrou is ook besig om te rook. ’n Lang, dun Cartier-sigaret. Sy is geklee in elegante swart sypajamas, in haar hotelkamer, sewe kilometer suidoos.

Sy het so pas ’n lang telefoongesprek met ’n familielid in ’n ander tydsone gevoer, ses uur voor Suid-Afrika.

Sy voel emosioneel uitgeput. Soveel verantwoordelikhede. Soveel pro­bleme. Soveel hansworse rondom haar. Hoe het dinge so uitgedraai? Tyd vir huis skoonmaak. Sy dink aan haar Oujaarsaand. Wat ’n sirkus. Ek’s te ryk vir hierdie tipe ding.

Sy kliek aggressief deur die tv-kanale, die klank afgeskakel. Aksiefliek. Bofbal. Chicago Cubs teen St Louis Cardinals. Aha, heel gepas.

Vat ’n sluk louwarm water. Blaai deur haar lêer met dokumente vir die besoek aan Kaapstad. Kliek. Musiekvideo met meisies in burkas. Gholf. Ak­siefliek met motors wat jaag. cnn met … Wag, wat is dit? Kaapstad? Sy sit die lêer neer, skakel die televisie se volume weer aan.

“Live from Cape Town, our reporter is on the scene where art collector and businesswoman Imelda Grys died earlier.”

Die vrou verstar. ’n Aantreklike blonde man doen verder verslag, met laatnagverkeer van Victoriastraat in Bantrybaai op die agtergrond: “Imelda Grys died in a tragic accident when her platform lift malfunctioned and she crashed through her own front door. She is reported to have died instantly.”

Dit verander als, dink die vrou in die swart pajamas. Dit verander waar­agtig als.

 

(5)

Daar is ’n vyfde vrou. Imelda Grys. Sy is dood. Die laaste gedagte wat deur haar kop gegaan het nadat die stoelhysbak in vryval was en sy dit desperaat probeer stop het – Waar is die panic button? Hoekom werk die emergency stop nie? – was: Jou klein feeks. Ek weet dis jy. Hóé weet ek nie. Maar dit was jy. En jy sal betaal. Toe: die slag. ’n Verblindend helder, goue lig. Geen pyn nie. En toe die donkerte.

_____________________________________________________________________________________________________________________

 
 
 
deur Gerhard Greyvensteyn
 
 
_______________________________________________________________________________________________________________________________
 

U KAN OOK GENIET...

Uittreksel: Vier susters deur Gerda Taljaard

Facebook  Twitter