Uittreksel: Moord op Lake Panic deur Leon van Nierop

This entry was posted on 29 July 2021.

’n Handvol sjefs by ’n meesterklas in die boendoes. ’n Vrou se lyk in die meer. ’n Privaat speurder wat moet vra: Wie het sy mes in vir wie?

 

“BEER STAP BUITENTOE, oor die lodge se gras na die hysbak se geopende deure. Kyk hoe die voëls oor die meer vlieg. ’n Wolk swaeltjies wat met gepunte stertjies oor die water heen en weer skiet, trek sy aandag. ’n Laksman land op ’n dooie tak na aan die hysbak. Gluur Beer aan. Wip-waai sy swaelstert – ’n doodsengel wat ’n galg of doringdraad soek om kos in vleisflarde aan op te hang. Drie makoro’s skommel nou op die water, want die inwoners het natuurlik van die ontvangsdame se dood gehoor. Die mans staan penregop, hul roeistokke soos spiese langs hulle in die water. Beer plaas sy hande aan weerskante van sy mond en roep. Waarsku die mense op die bote om dit nie naby die toneel te waag nie. Een lig sy hand in erkenning. Hulle druk met hul roeistokke op die meer se bodem. Roei terug. Die makoro’s dryf-gly oewerwaarts oor die water na die Baponeng se hutte aan die oorkant. Die golfies glimlag ritmies hemel toe.’n Aasvoël sirkel met oopgespreide vlerke oor hulle heen. Beer neem selfoonfoto’s. Water en watergras, soet frangipani, katjiepiering. Die plesierboot kapkap teen die houtdek. Ligte golfies lek teen die hout, stort soms oor. Die meer is nie meer so glad soos vantevore nie. Weer is dit asof iets daaronder roer. Macbeth se heksebrousel begin prut. En nogmaals wolke agter die bome wat nou dig saamkoek om ’n storm uit te broei. Blitse bliksem tussen die wolke in. Links van Beer strek die vrou se lewelose liggaam op haar maag uit, haar gesig in die water, haar geel rok komieklik hoog en skeef opgetrek. Haar linkerknie is onder haar ingevou. Dis gebreek. ’n Been steek deur haar vel. Krappe skuifel oor die dek na haar lyk toe. Beer kyk boontoe vanwaar sy vermoedelik geval het. Dis dieselfde plek waar die klippe die vorige dag losgekom en amper op hom geval het. Hy merk ’n uitsteekrots met mosterd- kleurige spikkels. Dit lyk nou soos ‘n dolk.”

 

Onttrek uit Moord op Lake Panic, nou beskikbaar.

____________________________________________________________________________________________________________________________

 
 
 
 
 
____________________________________________________________________________________________________________________________
 

U KAN OOK GENIET

Uittreksel: Die Seepunt-insident deur Gerhard Greyvensteyn

Facebook  Twitter