Uittreksel: Moordvis deur Irna van Zyl

This entry was posted on 27 July 2021.

’n Grieselige gesig begroet speuradjudant Storm van der Merwe en haar hond op Grootbaai se strand: die lyk van ’n jong joernalis – sonder haar arm.

 

1

 

“DIS ’N GOEIE UUR SEDERT die man met sy grys volbaard en massiewe bakkie op Storm van der Merwe se stert kom sit het. En sy hardkoppig so vinnig soos haar Volla kan, voor hom bly. Meneer Padvark. Bleddie irriterend.

Van lank voor die indraai na Caledon uit die ompad deur die Hemel-en-Aarde-vallei, tot anderkant die bulte van die Bredasdorppad, ry hulle so. Sy vasgekeer deur twee lompe waens en hul treilers waarverby sy nie kan nie en hy wat nie ’n duim toegee nie.

En die hele pad stort dit water. Slierte reën sodat Storm partykeer byna nie behoorlik deur haar voorruit kan sien nie. Skytskyt die bult yt. Sy is seker die vloedwater gaan weer ’n keer lelik afkom. Asof gister se padverspoelings nie reeds erg genoeg is nie.

Dis al ná drie en sy is angstig omdat die dag besig is om vir haar weg te hardloop. Sy móét vanaand terug Hermanus toe. Met ompad en al. Huis toe. Haar nuwe huisie. Ás mens die tuinwoonstel ’n huis kan noem.

Teen die lang draaie voor die Stanford-afdraai wyk die man in die bakkie steeds nie.

Daar is wel nou vir haar ’n gaping om verby die lorries en hul groot treilers te kom, maar sy het haar lus vir ’n tweegeveg verloor. Dit is nou eenmaal nie die moeite werd nie. Eerder terughang en

vir hom die kans gee.

Hy is ook nie links nie en versnel skielik, maar draai dan moedswillig skerp voor haar in.

Sy moet hard rem of sy ry in hom vas. “Jou stupid doos!” Storm skree so hard dat haar skaaphond, Purdey, wat op die voorste sitplek opgekrul lê en slaap, verontwaardig opkyk.

“Mislike bliksem! Ek sal jou wys hoe lyk stadig!” Die ligblou Volla brul. Maklik om jou te misgis met die daisies op die bonnet, maar hy hét darem ’n 1600-enjin. Sy trap die petrol diep in. Tot langs die baard-man.

Hy kyk haar reg in die oë en gooi sy middelvinger in die lug. “Fokof.” Sy lippe spel die woord duidelik. Sy gesig vir ’n oomblik triomfantelik voordat hy met groot krag weg van haar versnel. Teen die bult op en uit.

Sy wil hom agternasit en in dieselfde gebaretaal presies laat verstaan wat sy dink, maar beteuel haar.

Nee. Liewers nie. Sy is vies vir haarself dat sy hom enigsins aangevat het.

Wat ’n opperste armsalige karakter. Kán jy nou meer? Dis sulke mense se skuld dat daar so baie ongelukke op die paaie is.

Gelukkig dat hy nie sal weet wie sy is as hy haar ooit êrens moet raakloop nie.

 

NET VOOR DIE VIERSTOP by Van Braekelstoor en die afdraai na Stanford trek Storm regs in. Hier is ’n waterbak vir honde waarheen sy en Purdey koes-koes deur die reën hardloop. En ’n skoon toilet

en wegneemkoffie. Sy vat selfbewus aan haar kop en pluk haar helderpienk T-hemp af oor haar boude. Agter haar groot sonbril en haar lang, donkerbruin krulhare, toegebind met ’n serp, is sy

onherkenbaar as die polisievrou wat so skandes gemaak het. Wat, volgens die koerante, die Diens se naam deur die modder gesleep het.

Sy loer na haar horlosie. Nog net so veertig minute Grootbaai

toe. Dis waar meneer E en sy honde vir haar wag. E vir Erwin

Jooste, haar eerste kliënt in wat moontlik haar nuwe lewe kan wees. Jooste was behoorlik beneuk en nors oor die foon toe hy die eerste keer gebel het op soek na ’n hondeskool. Vir ’n paar oomblikke het sy gedink dié een moet maar verby hou. Maar sy was desperaat vir ’n ander uitdaging. Enigiets om die verveling van haar day job teen te werk.

Gewapen met die koffie en nog water, Purdey nou tevrede met haar ronde wit gunsteling-rubberbal, vertrek hulle weer.

Twee kilometer in die afdraai na Stanford trek die stuurwiel skeef. Sy weet dadelik wat dit beteken. ’n Gemors van die eerste water. Dis ’n pap wiel.

Maar voordat sy kan stilhou, asof dit nie erg genoeg is nie, disintegreer die band heeltemal. Sy sien die stukkies rubber in haar kantspieël agtertoe vlieg. En die kar ruk tot stilstand.

Op die rim, dink Storm.

En toe … die skrikwekkendste geknars van metaal teen metaal. En die reuk van rubber. Dis die eerste ding wat sy besef voordat die impak van die slag deur haar hele lyf ruk.

Sy probeer haar hand uitskiet om Purdey te keer, maar die hond tref die voorruit hard met haar kop en tjank skril voordat sy ineenvou en met ’n slag van die voorste sitplek afval. Sy lê onnatuurlik

stil op die grond.

“My engelhond!” Storm buk af en vat aan haar, vryf versigtig oor haar maag. Oor haar liewe swart-en-wit lyf. Purdey se oë is bottoe. Haar hart, kan Storm voel, klop net-net. Nie eens ’n been ruk nie.

Háár hart wil ook ’n paar sekondes lank tot stilstand kom.

Nee, nee, néé. Net tog asseblief nie dít nie.

Is sy bewusteloos? Kan diere harsingskudding kry?

Storm sit asof sy verlam is. Sy kan nie besluit wat om te doen nie. Kyk om haar rond in die kar. Water.

Sy moet ’n tissue natmaak. Dit oor Purdey se kop vryf. Iets. Enigiets.

Toe sy terugdraai, kyk sy reguit in ’n paar blou oë en ’n bruingebrande spits neus vas. Die man buk van ’n aansienlike lengte af na haar om by die venster in te sien. Sy arm familiêr teen die Volla se venster. Sy staar gefassineerd na die arm. Daar is ’n tatoeëermerk van ’n springende oopbekhaai aan die binnekant wat onder sy t-hemp se mou uitsteek.

“Sjoe,” sê die man en beduie sy moet die venster afdraai, steeds uit die hoogte. “Jy’t so skielik gestop.”

Asof dit haar skuld is.

“En jy’t teen my vasgejaag! My band is flenters. Jy kan mos sien.” Sy draai haar kop heen en weer en op en af. Seer sekerlik ’n whiplash.

Agter teenaan haar kar staan ’n groot rooi insleepvoertuig.

 

“Storm druk vir Purdey teen haar vas en frommel haar ore. Sy lyk sommer perdfris van die aandag en ingenome met haarself.”

 

Hy tree effens terug van die deur af met sy hande voor hom uit: “Jammer, hoor. Ek hoop nie jy’t seergekry nie.”

“My hond … ek … ons moet haar by ’n dokter kry. Dringend!” Sy kyk benoud na Purdey. Dié maak genadiglik nou haar oë oop en begin sukkelend orent kom. Skuifel terug teen die sitplek op.

Storm druk vir Purdey teen haar vas en frommel haar ore. Sy lyk sommer perdfris van die aandag en ingenome met haarself. “Dankie tog. Soet hond.”

Die man kyk na die aankomende verkeer. Vee met sy hande oor sy hare wat sopnat tot op sy skouers drup: “Ons maak gou ’n plan. Moenie worry nie. Ek sal aanry, ek’s seker op Stanford of Gansbaai sal ek iemand kry om jou te help.”

“Maar jy’s seker lekker bedonnerd. Dis dan jou skuld. Jy kan my nie hier los nie.”

“Ek … uh … ek moet … ek het ’n afspraak.” Hy lyk vir ’n oomblik onkant betrap, maar stap sonder ’n verdere woord vorentoe, vra dat sy die bak oopmaak en begin rondgrawe.

Sy soek die bottel water wat sy vroeër gekoop het in die deurrak. Purdey se tong steek pienk uit en sy slurp die water uit haar bakhand gulsig op. Storm vee versigtig oor haar kop met die nat snesie voordat sy die halsband aansit en saam met Purdey by die bestuurderskant uitklim dat sy kan kyk wat die man maak. Sy en haar hond is binne sekondes papnat.

Hy’s kaalvoet, sien sy verbaas. En staan steeds gebukkend met sy slap lyf dubbeld oor die kap gevou. ’n Lang, maer man in bruin cargo pants en ’n donkerblou gholfhempie by sy broek ingesteek. Om sy nek hang ’n swart riempie met ’n haaitand.

Hy het intussen teruggestap na die insleepvoertuig en ’n rooi driehoekie ’n ent van hulle in die pad gaan sit. “Jammer … uhm, hoor. Ek sien nie die spaarwiel nie. Weet jy dalk waar …?”

“Hier is nie een nie.”

“Wat?” Hy begin ’n gebaar maak wat vir Storm lyk asof hy sy hande in die lug wil gooi, maar dan is dit asof hy hom betyds bedink. “Dís nou ’n gemors,” sê hy stadig.

Sy sug weer en wens sy kon uit die situasie ontkom. Hier sit sy hulpeloos met haar hond op die pad tussen Caledon en Stanford. By die man wat teen haar vasgejaag en die vermetelheid het om

geïrriteerd met haar te klink. Haar soos ’n simpel vrou behandel wat niks vir haarself kan doen nie.

En dit terwyl dit glad nie is hoe sy is nie. Nee, voorheen, so kort soos ’n maand gelede nog, was sy ’n speuradjudant. Gevrees en gerespekteer met die kanse vir bevordering net om die draai.

En nou? Nou is sy in ’n krisis. ’n Krisis wat nie wil opklaar nie. Soos ’n kettingbotsing waarin die een stuk teenspoed die volgende veroorsaak én die volgende én die volgende. Sy is seker dit moet lankal meer as drie voorvalle wees waar dinge die afgelope weke met haar verkeerd geloop het. Tyd dat die gety draai, maar nada. Niks. Dit wil nie ophou nie.

“Die band is aan die ander wiel. Dis die tweede pappe in ’n week,” sê sy nonchalant, asof daar niks daarmee verkeerd is nie.

Storm kyk na Purdey en dan terug na die man. “Jy sal ons moet sleep.”

Hy antwoord haar nie, maar gaan hou darem die deur van die trok oop dat sy kan in.

Dit is moeilik om in die insleepvoertuig te kom. Storm prober eers met een voet op die trappie, maar haar bene is te kort, en sy moet haar aan die armleuning ophys.

Ewe steek hy sy hand uit toe sy in is: “Spyker,” sê hy. “Spyker Swart.”

Hier is nie ’n sitplekgordel nie, sien sy. Net liggrys lakleersitplekke wat hol gesit is. Plek vir drie mense in ’n ry.

Volgende is Purdey wat hy intel sodat sy by Storm se voete kan sit.

Daarna stap hy terug na sy kant om die sleepwa in posisie te kry sodat hy die Volla kan aanhaak. Windskeef op sy twee agterwiele. Haar arme kar.

“Het jy versekering?” vra hy toe hulle ’n ent weg is.

Gelukkig het die slag erger geklink as wat dit lyk, maar sy sien nie nou kans vir ’n onnodige groot uitgawe nie.

“Jy weet dit was jou skuld, nè?”

“Natuurlik, ja, maar jy’t darem vrek vinnig voor my gestop.”

Sy kyk na hom. Asof sy dit kan help dat haar band gedisintegreer het.

Die spyker-man sit, ondanks die koue en die reën wat nou sagter val, met sy arm by die venster uit en trek vinnig weg. Sy hoop benoud die Volla is stewig genoeg vasgemaak.

Hy rat met ’n geknars af toe hulle ’n bult tref. Die vragmotor stamp sleg om die eerste draai sodat alles skud en ratel.

Storm klou aan die deurhandvatsel met haar een hand en keer voor haar teen die paneelbord met die ander.

“Eers die veearts.” Sy skielike vriendelikheid verras haar. “Dan die dokter of die hospitaal. Vir x-strale,” sê hy vinnig toe sy frons. “En die bandeplek. Moenie worry nie. Ek sal jou nie charge nie.”

Sy glimlag styf. Dit bly steeds ’n shitspul.

Grootbaai, haaiduik-hoofstad van die wêreld, dis waarheen sy op pad is. In hul duisende stroom al wat toeris is deesdae hierheen. Miskien kan sy dit ’n slag gaan probeer. ’n Duik in ’n haaihok

langs die kant van die boot.

Hulle sê dis die beste manier om ’n grootwithaai van naderby te bekyk.

Maar eers wanneer haar teenspoed verbygetrek het. In haar kop tel sy dit af: die skande van die skorsing, toe die demotion en daarna die disastrous trek Hermanus toe na wat niks meer as ’n

glorified agterkamer is nie. Nou die pap band, haar afspraak met Erwin Jooste gemis. En natuurlik die grootste issue van als: nog ’n uitval met haar ma.

Asof hy haar gedagtes gelees het en net om spiteful te wees buk die Spyker-kêrel af om iets by sy voete te verskuif. Die trok se wiele tref die gruis en die wa swaai gevaarlik soos hy sukkel om beheer oor die stuur te kry.

Genade tog.”

 

Onttrek uit Moordvis, nou beskikbaar.

____________________________________________________________________________________________________________________________

 
 
 
 
 
 
_______________________________________________________________________________________________________________________________
 

U KAN OOK GENIET

Uittreksel: Die Seepunt-insident deur Gerhard Greyvensteyn

Facebook  Twitter