Resepte: Kosbaar deur Elmarie Berry

This entry was posted on 01 February 2022.

Kosbaar is Elmarie Berry se eerste kookboek hoewel sy reeds sedert 2015 ’n bekende kosblogskrywer is. Haar hartsbegeerte is om ’n boek uit te gee wat jou siel sal voed en waarmee jy in jou kombuis met jou nabye vriende en familie herinneringe kan skep. In haar eie woorde: “Kos is ’n manier en plek om bymekaar te kom, om rustig te raak en om jou hart oop te maak om te deel, lief te hê en lekker te lag. Geniet die reis en samesyn!”

 


 

INDEKS

Geroosterde Pampoenskywe

Pitahamburgers

Bastilla

Eend In Toskaanse Rooiwynsous

Gebakte Kaaskoek

Nutella-Gevulde Plaatkoekies

 


 

Geroosterde Pampoenskywe

met Basiliekruid, Tamatie en Feta

 

“Hierdie slaai is so mooi soos ’n bos blomme en jy kan dit met gemak die fokuspunt van jou tafel maak. Sit dit warm of by kamertemperatuur voor. Jy kan ook kortpad vat en die basiliekruidpesto en die gekaramelliseerde uie klaar koop.”

 

Maak: 4–6 porsies

 

olyfolie, om panne mee te smeer en oor te sprinkel

1 grys, ronde pampoen (soos Sakata), met skil in skywe gesny

1 teelepel droë rissievlokkies

vars origanum

sout en varsgemaalde swartpeper

4 rooi-uie, geskil en in dun skywe gesny

½ koppie strooisuiker

¾ koppie balsamiese asyn

500 g kersietamaties

¼ koppie olyfolie

175 g fetakaas, gekrummel

 

BASILIEKRUIDOLIE

3 bosse vars basiliekruid (hou ’n paar blare vir voorsit)

1 knoffelhuisie, gekap

sout en varsgemaalde swartpeper

¾ koppie olyfolie

 

Verhit die oond tot 200 °C.

Smeer olyfolie oor ’n bakplaat en pak die pampoen in ’n enkellaag op die bakplaat. Strooi die rissievlokkies, origanum, sout en peper oor. Sprinkel nog olyfolie oor. Rooster vir 35 minute.

Smeer ’n ander bakplaat met olyfolie en sit die uie in die pan. Strooi die suiker en balsamiese asyn oor en geur met sout en peper. Meng dit goed en rooster vir 30 minute.

Ná sowat 15 minute, smeer nog ’n bakplaat en sit die tamaties daarop. Sprinkel olyfolie oor en geur met sout en peper. Rooster vir 15 minute.

Laat alles afkoel tot kamertemperatuur.

 

BASILIEKRUIDOLIE

Sit die basiliekruid, knoffel en sout en peper in ’n voedselverwerker. Zirts tot alles gemeng is. Terwyl dit meng, gooi die olyfolie stadig by en zirts tot ’n gladde pasta vorm. Jy kan die olie vir tot ’n jaar in jou yskas hou. Jy kan ook gekoopte pesto gebruik en dit dan net met olie verdun en meng.

Stapel die botterskorsie opmekaar in ’n groot, plat bord en strooi die uie, tamaties, feta en basiliekruid oor. Sprinkel nog ’n bietjie basiliekruidolie oor en sit warm of by kamertemperatuur voor.

 


 

Pitahamburgers

met Griekse jogurtsous

 

As daar net een resep in hierdie hoofstuk is wat jy moet probeer, is dit dié een. Hierdie hamburgers is so lekker dat almal hul vingers sal aflek! Dit is ’n maklike dis wat heelwat mense kos kan gee en dus ’n maklike manier om te onthaal.

 

Maak 7 porsies

 

1 kg gemaalde lamsvleis

1 groen appel, fyngerasper

’n hand vol vars koljander, gekap

½ teelepel rooipeper

1 teelepel fyn komyn

2 knoffelhuisies, fyngekap

1 teelepel sout

1 teelepel varsgemaalde swartpeper

olyfolie om oor patties te smeer

7 vars pitabroodjies

 

Jogurtsous

1 koppie Griekse jogurt

2 eetlepels olyfolie

gerasperde skil van 1 suurlemoen

sout en varsgemaalde swartpeper

’n handvol vars koljander, gekap

 

Meng die maalvleis, appel, koljander, rooipeper, komyn, knoffel, sout en peper in ’n mengbak en maak een groot vleisbol.

Draai dit in kleefplastiek toe en laat dit vir ’n uur of selfs oornag in die yskas rus om die geur te verbeter.

Verdeel die vleis in 14 gelyke dele en vorm frikkadelle wat jy platdruk tot ongeveer 8 cm in deursnee (so 80 g elk).  Smeer die patties baie goed met olyfolie.

Braai die patties oor matige warm kole of in ’n warm riffelpan tot dit goudbruin, maar nog sappig is.

 

Jogurtsous

Meng die jogurt, olyfolie, suurlemoenskil, sout, peper en koljander in ’n bakkie.

Sny die pitabroodjies in die dwarste deur sodat jy twee halfmaanvorms het. Sny die broodjies in die lengte deur, maar nie heeltemal nie, sodat dit ’n sakkie vorm. Skep ’n lepel of twee van die sous in elke pitabroodjie en plaas twee patties binne-in. Sit nog ’n takkie vars koljanderblare by vir
ekstra geur.

 


 

Bastilla

 

Hierdie speseryagtige hoendergereg is ’n heerlike, maklike resep propvol interessante geure. Terwyl ek in ’n restaurant gewerk het, het ek dit dikwels gemaak.

 

Maak 4–6 porsies

 

100 g botter

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyngekap

1 eetlepel gerasperde vars gemmer

1 eetlepel fyn kaneel

1 eetlepel gemengde speserye

sout en varsgemaalde swartpeper

1 teelepel borrie

1 teelepel fyn kardemom

1 heel hoender

2 koppies hoenderaftreksel

1 koppie room

200 g amandelvlokkies, gerooster

‘n hand vol vars kruisement, gekap

 

Smelt die botter in ’n groot swaarboomkastrol en braai die ui tot sag. Voeg die knoffel, gemmer, kaneel, gemengde speserye, sout en peper, borrie en kardemom by. Voeg die hoender by en gooi die hoenderaftreksel oor. Prut sowat ’n uur tot die hoender baie sag is.

Skep die hoender uit die kastrol en laat effens afkoel. Haal die vel af en die bene uit en pluis die vleis fyn.

Kook die vloeistof tot dit met die helfte verdamp het en voeg die room by. Voeg die gepluiste hoender by en prut vir 10 minute.

Strooi amandelvlokkies en kruisementblare oor en sit voor op rys.

 

Let wel: Jy kan ook 6 hoenderfilette gebruik en dit vir sowat 30 minute prut.

 


 

Eend In Toskaanse Rooiwynsous

 

Die Toskane is een van die mees ongerepte dele in Italië. Ons het deur die platteland getoer en op please gebly om meer te leer oor hoe die mense hulle kosbenodighede koop en voorberei. Hulle eet heelwat meer pluimvee as rooivleis en een van hul gunstelinge is eend, wat hulle in rooiwyn uit die streek gaarmaak. Sangiovese is ’n gewilde kultivar en word meestal vir dié resep gebruik. As jy dit nie in Suid-Afrika kan kry nie, kan jy ook ’n pinot noir van goeie gehalte gebruik.

 

Maak 4 porsies

 

4 eendkwarte, boudjie en dy aanmekaar

2 eetlepels eendvet

½ teelepel Chinese vyfspeseryepoeier

’n bossie vars roosmaryntakkies

4 knoffelhuisies, gekap

sout en varsgemaalde swartpeper

½ x 750 ml bottel goeie sangiovese of pinot noir

2 eetlepels bessiekonfyt

 

Verhit die oond tot 190°C.

Maak die eendstukke droog met kombuispapier en maak snytjies in elke stuk. Meng die eendvet en die speserye en smeer die mengsel goed oor elke eendkwart.

Sit die roosmaryntakkies en knoffel in ’n oondpan. Pak die eendkwarte bo-op. Geur met sout en peper. Bak die eend onbedek vir 1 uur.

Verhit die wyn en bessiekonfyt in ’n kastrol en laat prut vir 5 minute. Haaldie eend ná 1 uur uit die oond en skep die meeste van die vet uit die bak. (Laat die vet afkoel en hou dit om braai-aartappels vir ’n ander geleentheid te maak.) Giet die rooiwynmengsel oor die eend en sit die bak terug in die oond vir nog 15 minute.

Sit die eend in die rooiwynsous met kapokaartappels voor.

 


 

Gebakte Kaaskoek

 

Dié resep sal jou nooit in die steek laat nie en het ongelooflik baie aandag op my blog gekry. Behalwe vir die nostalgiese melktert is dit op die oomblik my gewildst soetgebakresep.

 

Maak 1 groot koek

 

Kors

2 x 200 g-pak tennisbeskuitjies

150 g gesmelte botter

 

Vulsel

4 jumbo-eiers

1 koppie suiker

¼ koppie suurlemoensap

3 x 250 g-houers gladde roomkaas

1 koppie room

½ koppie koekmeel

 

Kors

Meng die beskuitjies en gesmelte botter in ’n voedselverwerker tot dit ’n krummelrige tekstuur het.

Spuit ’n losboompan met ’n deursnee van 23 cm met kleefwerende kossproei. Voer die pan met die

beskuitjiekrummels uit en plaas in die yskas.

 

Vulsel

Verhit die oond tot 180 °C.

Klits die eiers en suiker in ’n mengbak tot lig en romerig.

Voeg die suurlemoensap by terwyl jy klits. Voeg dan die roomkaas, room en meel by en klits tot glad.

Gooi die mengsel oor die beskuitjiekors en bak vir 10 minute. Stel die hitte laer na 140°C en bak vir 1 uur. Laat die kaaskoek in die oond afkoel met die deur so effe oop.

Versier soos verkies en sit voor.

 


 

Nutella-Gevulde Plaatkoekies

 

Wat ’n lieflike manier om ’n Sondagoggend te begin met ’n koppie stomende koffie en varsgebakte plaatkoekies gevul met Nutella. Dit is my kinders se gunstelingontbyt en so maklik om te maak. Probeer gerus die resep en maak jou gesin se harte bly!

 

Maak 12 plaatkoekies

 

2 eetlepels botter

150 ml melk

1 groot eier, geklits

1 koppie bruismeel

’n knippie sout

½ koppie suiker

Nutella vir die vulsel

 

Die maklikste manier is om die botter, melk, eier, meel, sout en suiker in ’n elektriese menger te meng. So nie, smelt eers die botter en voeg dan die melk en die eier by en meng. Meng die meel, sout en suiker eers en meng dan alles saam met ’n ballonklitser.

Verhit ’n kleefvrye pan tot matig warm. Jy kan ’n klein bietjie botter of olie in die pan sit, maar ek gebruik die pan net so. Skep die mengsel met ’n lepel in die pan. Wanneer die boonste deel van die plaatkoekies begin borrels maak, skep ’n teelepel Nutella bo-op. Dan skep jy weer ’n teelepel plaatkoekiemengsel bo-op om die Nutella te bedek. Draai die plaatkoekies om en bak die ander kant tot gaar en ligbruin.

 

Let wel: Jy kan hierdie resep sonder die Nutella maak en die plaatkoekies gewoonweg bak.

 

Resepte uit Kosbaar deur Elmarie Berry, nou beskikbaar.

 

 
 
 
 
 

 

U KAN OOK GENIET

Resepte: Huiskos deur Herman Lensing

 


 

Facebook  Twitter